Stellalanders val Pretoria binne vir groot rugby reünie
Voormalige Springbokke, bekende rugby-administrateurs en rugbyspelers uit ’n vervloë era, wat op hul dag die unieke rooi en goue ster van Stellaland op die bors gedra het, het die afgelope naweek ’n aand van nostalgie beleef tydens die groot reünie wat by Harlequins klub in Pretoria gehou is.
As daar nog iemand is wat twyfel of rugby ’n unieke sport is wat lewenslange kameraadskap en vriendskapsbande smee, sou die bywoning van die afgelope naweek se unieke reünie van oud spelers en administrateurs van die Stellaland Rugby-unie alle twyfel uit die weg geruim het.
Hierdie unie het amptelik bestaan tussen 1973 en 1995 en oorlewende spelers uit dié volle era van 22 jaar was teenwoordig by die reünie by die Harlequins klub in Pretoria.
Dit is vanjaar 30 jaar sedert die span van Stellaland in 1995 in hul laaste seisoen as erkende unie aan provinsiale rugby in Suid-Afrika deelgeneem het. Spelers wat toe in hul vroeë twintigs was, is dus nou reeds by die 50-kerf verby. Die ouer manne van daardie laaste seisoen, wat in 1995 reeds in hul dertigs was, is al oupas van 60 plus en die oorlewende spelers uit die unie se eerste jare sedert 1973 is oupagrootjies in hul laat 70’s en vroeë 80’s.
Vir dié manne was dit dus ’n aand van blye weersiens en groot nostalgie, waartydens heerlik gekuier en kopstukke gesels kon word ook die unieke ervarings van klub- en provinsiale rugby op die platteland. Om die uniekheid van die destydse situasie te verduidelik, is daar in een van die videos wat deur die loop van die aand vertoon is vertel dat twee spelers uit dieselfde span op ’n gegewe tyd in die bestaan van Stellaland Rugby-unie sowat 500 kilometer uit mekaar gewoon het. Hulle het egter saam geoefen by die unie se destydse hoofkwartier in Lichtenburg en Saterdae saam in een provinsiale trui op die veld gesweet.
Daar is hulde gebring aan verskeie administrateurs en spelers op provinsiale- en klubvlak uit die geskiedenis an Stellaland rugby. Onder hierdie spelers wat vereer is, was manne wat meer as 100 keer vir die provinsie uitgedraf het.
Tydens een van die emosionele sessies van die verrigtinge het die vier kinders van die unie se eerste president, Wouter de Vos (1973 – 1989), asook ’n seun en twee kleinseuns van die tweede president, Arrie Oberholzer (1990-1991), hul oorlede vaders en grootvader verteenwoordig om eerbewyse te ontvang.
Bekende rugby-administrateurs, wat diep spore in die sport se administrasie getrap het, was ook teenwoordig om te deel in die nostalgie. Onder hulle tel die laaste president van Stellaland Rugby-unie, Johan Korff, wat ook in beheer van die reëlings vir die reünie was.
Barend van Graan (Blou Bulle) en André May (Luiperds) was ook onder die gaste.
Die hoogtepunt van die reünie was die bekendstelling van ’n baie besondere boek, waarin die geskiedenis en statistiek van die gewese Stellaland Rugby-unie opgeteken is. Dié boek, getiteld “Stellaland Rugby 1973-1995: ’n Helder ster word uitgedoof” is saamgestel is deur die bekende rugby statistikus, Eddie Grieb, die sporthistorikus prof. Heinrich Schulze en die oud sportjoernalis, Piet Ebersöhn. Waardering is uitgespreek vir die skrywers se groot taak, waarmee hulle verhoed het dat waardevolle rugby-geskiedenis uit die skatkis van Suid-Afrikaanse rugby verlore gaan.
Vir enige navrae oor die boek, kan Johan Korff, verkieslik via sms of WhatsApp, gekontak word by 083-264-0370.
Nog foto’s van die reünie is te sien op die amptelike facebook blad, ‘Stellaland Rugby 1973-1995’.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







