Gróót makietie in Pretoria toe rugby se ‘rockstar’ 90 word
Die rugbylegende Frik du Preez se 90ste verjaardagfees het Vrydagaand meer as 300 gaste vanoor die hele land na Pretoria gelok vir waarskynlik die grootste partytjie vanjaar in die hoofstad.
Rugbyfunksies word normaalweg geassosieer met spelers, oud-spelers en administrateurs wat oor ’n paar glasies limonade kuier en gesels oor die spel of dalk oor die “goeie ou dae”.
Maar as Suid-Afrika se oudste lewende Springbok en die land se amptelike speler van die 20ste eeu die dag 90 jaar oud word en daar word in Pretoria fees gevier, verander die scenario. Dink gróót, soos in die wie-is-wie van die rugbygemeenskap, aangevul deur die wie-is-wie van bekende persoonlikhede uit ander sosiale kringe in die Afrikaanse gemeenskap. Sportsterre uit ander sportkodes, sangers, akteurs en ander TV- en radiopersoonlikhede, politici, akademici… noem maar op.
Dan moet mens natuurlik nie van dié rugbyheld se besonder wye familie- en vriendekring vergeet nie.
Dít is presies die scenario wat Vrydagaand by die Heartfelt Arena in Centurion gerealiseer het toe meer as 300 gaste opgedaag het om een van die land se kleurrykste sportlegendes, Frederik Christoffel Hendrik (Frik) du Preez se mylpaal-verjaardag te vier.
Die fees is geïnisieer, georganiseer en met die hulp van verskeie borge aangebied deur jarelange vriende van Du Preez, Tom Roodt en sy vrou, Carla.
Wat ’n unieke, puik gereëlde fees was dit nie. Geen kostes is ontsien om dié groot dag te herdenk nie. Terwyl “Oom Frik”, soos almal hom ken, se gunsteling geregte soos ‘Skilpadjies’, skaapstertjies, skaapkop, beesstert, skaap kerrie-afval, hoenderkerrie, asook pap en kaiings bedien is, is die bekende Klipwerf Boere-orkes gehuur om musiek te verskaf.
Dit was nie regtig ’n aand vir statistiek en rekords nie, maar deur die loop van die aand het verskeie sprekers tog verwys daarna dat Du Preez vir jare die rekord gehou het as Springbok met die meeste toetse (38) agter sy naam. Eers vir vyf jaar alleen tussen 1971 en 1976, waarna hy en Jan Ellis dié rekord saam gehou het, totdat die slot Mark Andrews dit 21 jaar later in November 1997 verbeter het.
Daar is ook vermeld dat Du Preez in 2009 by Wêreldrugby se Heldesaal ingelyf is, slegs die derde Suid-Afrikaner ná Danie Craven (1997) en Bennie Osler (2007).
Vir Noord-Transvaal – later die Blou Bulle – se ondersteuners, was Frik du Preez egter die koning van Loftus Versfeld. Hy was die groot voorspeler wat tree-vir-tree saam met agterspelers kon hardloop, hoër as slotte kon spring wat baie langer as hy was én hy was ’n vaste voorspeler wat boonop sekuur pale toe kon skop.
In Pretoria was hy net Frik, of Groot Frik, die rugby kolos wat tussen 1958 en 1971 in 109 wedstryde in die ligblou trui van Noord-Transvaal uitgedraf het en die man wat ná die Curriebeker eindstryd van 1969 die woorde “drop, place en score” wêreldberoemd gemaak het toe hy op elke moontlike manier punte aangeteken het teen die WP en sy span sodoende gehelp het om dié roemryke beker weer op Loftus te laat staan.
Verskeie sprekers uit byna elke sfeer van die samelewing het by Du Preez se verjaardagfees hulde aan hom gebring. Daar was die akademikus en politieke ghoeroe, dr. Theuns Eloff; die voorsitter van die Blou Bulle Rugbytrust, Hein Raath; die akademikus en rugby historikus, prof. Heinrich Schulze; die uitvoerende direkteur en voorsitter van die SA Heldesaal, Johnny Burger; die rugbylegende, André Markgraaff; die voormalige Spingbok stut en Du Preez se kaptein teen die einde van sy internasionale loopbaan, prof. Hannes Marais; ’n vriend en buurman van Du Preez uit sy dae as boer in die Brey distrik, dr. Rex Barnard; die president van SA Rugby, Mark Alexander; nóg een van die Springbok kapteins onder wie Du Preez gespeel het, Tommy Bedford; die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss; en ’n nefie van Du Preez, Frikkie Pretorius, wat namens die familie hulde gebring het.
Daar was ook video-boodskappe van bekende persoonlikhede, sportsterre en vriende van Du Preez wat nie teenwoordig kon wees nie. Onder hulle tel die Springbok vleuel, Gerrie Germishuys, die gholf legende, Gary Player, die sanger Steve Hofmeyr en die rugbyspelende Rossouw-broers en makro-boere van Delmas se ouers, Chris en Naubie.
Die een gemeenskaplike tema van al hierdie sprekers was egter dat Du Preez nie net sy merk as rugbyheld gemaak het nie, maar dat sy kenmerkende menslikheid en nederigheid, asook sy bekende skerp humorsin van hom eintlik die legende maak wat hy is. Daarby is hy deur verskeie sprekers as ’n “natuurfrats” bestempel, wat met fisieke vermoëns geseën is waarvan die meeste ander net kan droom.
Du Preez se skerp humorsin het ook duidelik na vore gekom tydens ’n kort vrae en antwoord sessie met hom deur die seremoniemeester van die aand, die bekende skrywer, Willem Theron. Tydens dié sessie was dit ook duidelik dat Du Preez op sy ouderdom nog geseën is met ’n helder verstand.
Sy nederigheid het weer na vore gekom met die wyse waarop hy sy dankbaarheid vir al die lof en hulp uitgespreek het en veral toe hy al die eerbewyse wat hy al ontvang het opgedra het aan al sy spanmaats wat op klub, provinsiale en internasionale vlak saam met hom gespeel het.
“Rugby is ’n spansport en geen prestasies in my loopbaan sou moontlik gewees het sonder die manne wat vir soveel seisoene saam met my op die veld gesweet het nie,” het Du Preez beklemtoon.
Miskien het Willem Strauss dié legende egter die beste opgesom, nadat hy ’n geskenk namens die Blou Bulle aan Du Preez oorhandig het.
“Oom Frik, jy is alles wat almal vanaand gesê het, én meer. Jy is die ‘rockstar’ van rugby,” het Strauss opgemerk.
– Die feesviering om Du Preez se verjaardag te vier het Saterdag voortgeduur tydens die Bulls se Verenigde Rugby Kampioenskap (VRK) wedstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld.
Du Preez, geklee in ’n spesiale Boubul trui met die nommer 90 op sy rug, is voor die wedstryd met ’n gholfkar rondom die veld geneem, waarna hy nog ’n geskenk in die vorm van ’n geraamde spesiale Bulls trui ontvang het. Daarna het die toeskouers vir hom gesing om hom met sy verjaardag geluk te wens.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




































