Nuwe skolesport fees kom na Pretoria in 2026
’n Slinternuwe skole sportfees, wat rugby, hokkie en netbal vir verskillende ouderdomsgroepe op die spyskaart sal hê, sal in April 2026 by Die Hoërskool Menlopark in Pretoria aangebied word.
Die eerste deel van die tradisionele wintersport seisoen vir hoërskole word jare lank reeds gekenmerk deur landwye sportfeeste, waar veral top skole kan kragte meet en hulself gewoonlik teen die bestes oor provinsiale grense heen kan toets.
Die tydperk rondom die April-skoolvakansie wemel elke jaar van dié skolesport toernooie, wat sporttoere vir rugby-, hokkie- en netbalspanne ’n algemene verskynsel in daardie tyd van die jaar maak.
Tog glo die organiseerders van die nuwe Fairtree Sportfees dat daar plek is vir nog ’n toernooi wat alternatiewe, unieke geleenthede skep. Dié nuwe sportfees is verlede week in Pretoria bekendgestel en sal van 24-27 April 2026 op die sportterrein van Die Hoërskool Menlopark aangebied word.
Duitser Bosman Sport – ’n organisasie met jarelange ervaring in die skolesportmark – sal die fees aanbied in vennootskap met Fairtree en STADIO. Die Hoërskool Menlopark se wêreldklas fasiliteite bied volgens die organiseerders die ideale tuiste vir ’n fees wat daarop fokus om sport op topvlak te ontwikkel.
Volgens Duister Bosman van Duitser Bosman Sport sal dié toernooi ’n “nuwe speelveld skep waar grense verskuif gaan word”.
Die eerste Fairtree Sportfees sal volgens Bosman daarop gemik wees om die standaard van Suid-Afrikaanse skolesport te verhoog en ’n hoogsgerespekteerde, nasionale toernooi vir rugby, netbal, en hokkie te skep met die breë skolemark as teiken.
Met spanne in die ouderdomsgroepe o.15 en o.18 (rugby en netbal), asook hokkie vir o.18 seuns en dogters, bied die toernooi vir skole ’n “unieke kans om op ’n nasionale platform kragte te meet, te groei en hul sportstandaard verder te ontwikkel”, aldus Bosman.
Hy glo die fees sal skole help om die manier waarop hul sportspanne die seisoen aanpak te verbeter.
“Ons glo verskeie skole vanoor die land, wat ernstig oor hul sport is, sal die geleentheid gebruik om te wys hoe hul sportspanne se standaard gevorder het. Ons wil die profiel van die hoë prestasie toernooi só bou dat skole baie graag hieraan sal wil deelneem en ons wil die ervaring vir die deelnemers en afrigters baie uniek maak,” het Bosman opgemerk.
Volgens Barry van Blerk, bemarkingsbestuurder by Fairtree, is hierdie vennootskap ’n belegging in die toekoms van jong sporttalent.
“Fairtree wil waarde toevoeg dat meer kinders die geleentheid kry om op ’n gerespekteerde platform te speel en raakgesien kan word,” het Van Blerk tydens die bekendstelling van die toernooi gesê.
Volgens Kobus Hartman, hoof van Menlopark, sien die skool daarna uit om ’n nuwe era in skolesport te help skep.
“Vir Menlopark is dit ’n voorreg om ’n klomp sterk skole op ons terrein te verwelkom, en ons sal graag ons top fasiliteite wil optimaliseer met hierdie toernooi. Ons hoop om ’n toernooi te bou wat vir baie jare waarde kan toevoeg tot Suid-Afrikaanse skolesport,” het Hartman beklemtoon.
Volgens Bosman is die hokkieprogram van die toernooi reeds gefinaliseer, maar enkele plekke is nog beskikbaar by die rugby en netbal.
Skole wat nog vir dié deelname-geleenthede wil aansoek doen of enigiemand wat meer inligting verlang, kan die sportfees se webwerf besoek by webtuiste www.fairtreesportfees.co.za
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
