Uitgebreide interprovinsiale klubrugby toernooi skop eersdaag af
Ná die sukses van verlede jaar se eerste Interprovinsiale Superliga vir klubrugbyspanne is dié toernooi dramaties uitgebrei met nóg ’n rugby-unie aan boord én die toevoeging van ‘n tweede liga, wat beteken dat die kompetisie vanjaar 40 klubs uit ses provinsies sal akkomodeer.
As daar ooit twyfel was dat klubrugby noord van die Vaalrivier besig is om terug te bons en weer daarin slaag om die verbeelding van die rugbypubliek aan te gryp, is dit verlede week finaal bewys toe die verbeterde, uitgebreide Sibanye-Stillwater Superliga by Loftus Versfeld bekendgestel is.
Kapteins, afrigters en administrateurs van rugbyklubs uit al die provinsiale unies noord van die Vaalrivier het saam met verteenwoordigers van die borge byeengekom om die bekendtelling van hierdie indrukwekkende nuwe kompetisie by te woon.

Foto: BBRU
Dié inisiatief, wat hoofsaaklik deur die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss, in samewerking met die borge en sy kollegas van vyf ander rugby-provinsies gedryf word, sal vanjaar 40 klubs in twee liga-afdelings en ’n vroueliga akkomodeer. Prysgeld van sowat R2-miljoen, versprei oor die drie kompetisies, is op die spel
Verlede jaar het die Castle Superliga afgeskop met 12 klubs uit vier provinsiale unies, asook die Limpopo Blou Bulle sub-unie. Vanjaar het klubs vanuit die Lions se geledere ook by die Blou Bulle, Valke, Pumas, Luiperds en Limpopo Blou Bulle aangesluit, wat beteken dat die uitgebreide Sibanye-Stillwater Superliga volwaardig as ’n interprovinsiale klubtoernooi vir die top klubs noord van die Vaalrivier beskou kan word.

Foto: BBRU
Die Sibanye-Stillwater Superliga sal vanjaar 16 eersteliga klubs akkomodeer, terwyl die Sibanye-Stillwater Superliga Shield uit ’n verdere 16 klubs sal bestaan, wat die Blou Bulle se Presidentsliga klubs insluit.
Albei die ligas sal in vier groepe verdeel word met groepwedstryde wat gevolg sal word deur ’n uitspeelfase om die twee kandidate vir die eindstryd te bepaal. Die eindstryd van die top liga sal op 20 Maart op Loftus Versfeld plaasvind as voorwedstryd wanneer die Bulls en die Walliese klub Cardiff in ’n Verenigde Rugby Kampioenskap (VRK) wedstryd sal kragte meet.

Foto: BBRU
Vrouerugby sal ook deel uitmaak van die nuwe toernooi en die vroueliga sal in twee groepe van vier spanne elk beslis word.
Wedstryde sal weer op sosiale media platvorms gestroom word, terwyl beperkte TV-uitsendings ook sal plaasvind.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
