Rekords by dosyne spat by Affie Uitnodigings-atletiekbyeenkoms
Skitterende prestasies en vyf Pretoria A-bond skole se atlete wat deelgeneem het aan Vrydagaand se Affie Wildeklawer Uitnodigings-atletiekbyeenkoms, het atletiekliefhebbers opgewonde gemaak oor die res van ’n baie belowende skole atletiekseisoen wat voorlê.
Toeskouers op die stampvol paviljoen van die Tuks Atletiekstadion het Vrydag behoorlik waarde vir hul geld gekry toe nie minder as 73 rekords gespat het by die Affie Wildeklawer Uitnodigings-atletiekbyeenkoms.
Dit was veral op die baan, waar atlete die rekordboeke herskryf het met 48 nuwe rekords, terwyl 25 rekords ook in die velditems in die slag gebly het.
Die byeenkoms, wat jaarliks gesamentlik deur die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria (AHMP) aangebied word, het in perfekte atletiekweer op ’n windstil dag plaasgevind, en die standaard van die aksie wat opgelewer is, sal baie atletiekkenners opgewonde maak oor die res van die seisoen.
Die twee gasheerskole het tydens die byeenkoms meegeding met top teenstanders soos Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Curro Hazeldean (almal Pretoria), asook Hoërskool Nelspruit uit Mpumalanga en Potchefstroom Gimnasium uit Noordwes.
Behalwe vir die rekords word die kwaliteit van die atletiek wat opgedis is bevestig deur die feit dat vier prestasies tydens die byeenkoms meer as 960 punte op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd was. Dié prestasies word gereken as op internasionale standaard.
’n Verdere 15 prestasies tydens die byeenkoms was meer as 910 punte op die APE tabel werd, wat gereken word as op nasionale standaard.
Al vier die top prestasies is deur seuns van Affies behaal, met Dewald Roodt se puik rekord-poging van 18,85m (986 ATP punte) in die gewigstoot vir seuns o.16 (5kg gewig) wat in hierdie opsig die byeenkoms se beste prestasie was.
Kort op Roodt se hakke was nog een van Affies se bekende sterre, Emil Els, wat 979 APE punte verdien het vir sy nuwe rekordtyd van 1:50,57 in die 800m vir seuns o.17. Els het boonop die 1500m in dieselfde ouderdomsgroep ook in ’n rekordtyd van 03:56,87 (956 APE punte) gewen.
Dewald Bezuidenhout van Affies se rekordpoging van 18,55m in die gewigstoot vir seuns o.17 (5kg gewig) was 967 APE punte werd, terwyl Jeandré Visagie se tyd van 03:58,65 in die 1500m vir seuns o.16 vir hom 963 APE punte werd was.
Die byeenkoms is op ’n hoogtepunt afgesluit met groot opwinding tydens die 4x100m aflos items en nuwe rekord tye is in sewe uit die tien aflos-wedlope opgestel.
Vyf van die deelnemende skole aan Vrydag se Affie Wildeklawer Uitnodigingsbyeenkoms sal die einde van die maand deel wees van die Pretoria A-bond interhoër en hierdie prestasies voorspel dus vuurwerke op 27 Februarie in die Pilditch stadion.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

























