Goeie begin vir Naka Bulle en Grizzlies in eerste rondte van Sibanye-Stillwater Superliga
Die klubrugby seisoen het die afgelope naweek afgeskop met die Sibanye-Stillwater interprovinsiale Superliga se eerste rondte wedstryde wat afgehandel is.
Die Sibanye-Stillwater Superliga, die grootste interprovinsiale klubrugby toernooi in Suid-Afrika, het die afgelope naweek in alle erns afgeskop.
Agt wedstryde is in die Beker-afdeling van die toernooi afgehandel en verskeie verrassings was deel van hierdie uitslae.
Wat die plaaslike Pretoria-klubs betref was daar gemengde sukses vir die vier deelnemers. Terwyl die twee Carltonbeker finaliste van verlede jaar, Naka Bulle en Grizzlies, albei goeie oorwinnings behaal het, het Centurion en Harlequins egter vasgeval in hul eerste bepalings.
– Naka Bulle het op hul tuisveld in die Moot voortgegaan waar hulle verlede jaar opgehou het en gespeel asof daar geen afseisoen was nie. Hul teenstanders in die eerste rondte, Witrivier Rugbyklub, is behoorlik gekarnuffel.
Teen rustyd was die tuisspan reeds met 38-13 voor en toe die eindfluitjie blaas, het die telbord die verhaal van Witrivier se pyn vertel – 80-20 in die guns van Naka Bulle, nadat hulle 12 drieë ingeryg het.
Die besoekers het deurentyd positiewe rugby gespeel en is daarvoor beloon met twee drieë, maar hulle was eenvoudig nie opgewasse vir Naka Bulle se krag voorlangs en vernuf in die agterlyn nie.
– ’n Paar kilometer wes van die slagting in die Moot het twee plaaslike klubs, die Grizzlies en Centurion, mekaar aangevat in hul eerste ligabepaling van die toernooi.
Die twee spanne se groot pakke voorspelers het mekaar behoorlik opgekeil en in die eerste helfte het dit uitgeloop op ’n spreekwoordelike armdruk geveg, met nie een van die twee wat wou toegee nie.
Teen rustyd was daar nog min te kies tussen die twee spanne, met net ’n drie en ’n strafdoel wat wat die verskil van 15-7 in die tuisspan se guns beteken het.
Slordige hantering en gebrekkige afronding het Centurion egter duur te staan gekom in die tweede helfte. Terwyl hulle verskeie kanse verspeel het, was dit die tuisspan wat telkens kon afrond en munt kon slaan uit hul teenstanders se foute. Só is die telbord aan die rol gehou.
Grizzlies se gemaklike oorwinning van 43-14, het gewys dat hulle ook in hierdie kompetisie vanjaar ’n faktor gaan wees.
Vir Centurion is alles nog nie verlore nie, maar hulle sal hard moet werk aan hul vaardighede om die agterdeur oop te hou, want bonuspunt oorwinnings is nou ’n vereiste.
– Harlequins, wat na die Vaaldriehoek moes reis om Vereeniging te pak in hul eerste ligabepaling, sal beslis ook nie tevrede wees met die wyse waarop hul veldtog begin het nie.
Die ys is gou gebreek in dié wedstryd, met albei spanne wat vroeg reeds agter die doellyn gaan kuier het. Teen rustyd het albei spanne drie keer gedruk, maar beter skopwerk – wat ’n strafdoel insluit – het aan die tuisspan ’n voorsprong van 24-17 besorg.
Hoewel die manne van Groenkloof ses drieë in die wedstryd gedruk het teenoor die tuisspan se vyf, was dit die gebrekkige korrelwerk na die pale wat hulle dag bederf het. Terwyl Quins drie doelskoppe verbrou het, het Vereeniging met drie strafdoele geslaag, wat die verskil gemaak het in die eindtelling van 40-34 in hul guns.
– In die Skild-afdeling van die kompetisie kan die ses klubs uit Pretoria met vier oorwinnings spog ná die eerste rondte. Die Knights het Potgietersrus met 26-24 geklop, Oryx was met 31-8 baas teen die Kwagga Rugbyklub van Warmbad en Noordelikes (Pretoria-Noord) het Letaba met 29-24 getroef. Die BBRU-ondersteunde Dipoo klub het teen Noordelikes van Pietersburg met 25-23 gewen. Ongelukkig het Pretoria Rugbyklub met 24-25 teen Loskop Rugbyklub vasgeval, terwyl Atteridgeville met 13-40 teen Sibanye verloor het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.










