Local sportSchool sportSport

SA rekord vir Affie langasem by AGN kampioenskappe

Die puik prestasies van veral jonger atlete by die 2026 AGN Atletiekkampioenskappe, wat die afgelope naweek in die Pilditch stadion plaasgevind het, skep groot verwagtinge vir die res van die seisoen, wat later vanjaar by die junior wêreldkampioenskap ‘n hoogtepunt sal bereik.

Terwyl een van die mees belowende jong atlete in Pretoria die afgelope naweek by die Atletiek Gauteng-Noord (AGN) kampioenskappe in die Pilditch stadion ’n nasionale rekord verbeter het wat tien jaar ouer as hyself is, het die algehele prestasies van plaaslike atlete ook vuurwerke vir die res van die seisoen voorspel.

Die provinsiale kampioenskappe, wat oor twee dae plaasgevind het, het vir drie junior ouderdomsgroepe (o.16, o.18 en o.20), asook vir o.23 en senior atlete die geleentheid gebied om te kompeteer vir provinsiale kleure en deelname by die junior en senior nasionale kampioenskappe, wat later vandeesmaand en volgende maand onderskeidelik in Germiston en Stellenbosch aangebied sal word.

Dit was veral die prestasies van die junior atlete wat bevestig het dat die Suid-Afrikaanse span wat vanjaar aan die junior wêreldkampioenskap in Oregon, VSA, gaan deelneem, waarskynlik oorheers sal word deur AGN sterre.

Die grootste ster by die naweek se AGN kampioenskappe was ’n 17-jarige leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Emil Els. Dié atleet van Affies het ’n 27-jaar oue nasionale jeug-rekord in die 800m wedloop vir seuns o.18 verbeter. Die rekord van 1:47,67 was agter die naam van Mandla Nkosi en is in Januarie 1999 op dieselfde baan opgestel. Els se tyd was 1:46,52, wat dus meer as ’n sekonde vinniger as die vorige rekord is.

Groot opwinding het tydens die wedloop geheers, aangesien Els in ’n reuse stryd met die 16-jarige Tiisetso Malungane van Curro Hazeldean was. Malungane het tweede geëindig in ’n tyd van 1:46,62, slegs 10 honderdstes van ’n sekonde agter Els. Hy het dus ook die vorig rekord verbeter.  Albei atlete het volpunte (1000) op Atletiek Suid-Afrika se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel verdien.

In die 1500m wedloop het Malungane die bordjies verhang deur Els te klop met ’n wentyd van 03:44,96, wat ook 1000 APE punte werd is.

Bintou Camara van Curro Hazelldean het haar verstommende prestasies in die naelloop items voortgesit. Dié dogter, wat eintlik nog ’n o.14 atleet is, het die 100m (11,65s) en die 200m (24,13s) vir dogters o.16 gewen en vir albei prestasies ook 1000 APE punte verdien.

In die 400m hekkies item loop AGN oor van talent onder die junior atlete. In die wedloop vir dogters o.18 het drie atlete wêreldklas prestasies gelewer. Megan Nieman van Die Hoërskool Menlopark het die item gewen in ’n tyd van 57,10s, terwyl Christi Loggenberg van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria tweede was in 58,04s en Janelle Kirkpartrick (Menlopark) die bronsmedalje gewen het in ’n tyd van 58,35s. Al drie het 1000 APE punte verdien.  Nieman en Loggenberg is boonop nog o.17 atlete, terwyl Kirkpatrick eintlik nog o.16 is.

Loggenberg het goud gewen in die gewone 400m vir dogters o.18 en haar tyd van 53,07s het aan haar nog 1000 APE punte besorg.

In die 400m hekkies vir o.20 vroue het Tumi Ramokgopa ook 1000 APE punte verdien vir haar wentyd van 56,88s.

Nóg ’n Parkie, die 16-jarige Joshua Gerber, het aan die diskus item vir mans o.20 deelgeneem en verskeie atlete ouer as hy ore aangesit met sy wen-afstand van 57,38m, wat ook 1000 APE punte werd is. Die diskus waarmee hy deelgeneem het in dié ouderdomsgroep is 250 g swaarder as die een waarmee hy vroeër vandeesmaand die A-bond rekord verbeter het as o.17 atleet.

Die 18-jarige Keamogetswe Monyeki van Curro Hazeldean het die verspring vir mans o.20 met ’n puik afstand van 7,67m (1000 APE punte) gewen, Tommie Cronjé van Menlopark is nog ’n atleet wat puik presteer het en 1000 APE punte kon verwerf in een item. Hy is as o.16 kampioen in die 1500m hindernis wedloop gekroon met sy wentyd van 04:28,65.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button