Affies klop Boys High wéér en Noordvaal Cup se halfeind-kandidate word bepaal
Terwyl Affies hul aartsvyand die afgelope naweek maklik geklop het, het Garsfontein die ligafase van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling onoorwonne afgesluit en Waterkloof het ook vir die halfeindstryd in dié liga gekwalifiseer, maar Menlopark se seisoen is ongelukkig verby.
Dis Hoërskool Garsfontein se Bere teen Hoërskool Waterkloof se Blou Tornado in eerskomende naweek se halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Hierdie Pretoria-derby scenario in die kompetisie se een halfeindstryd het gerealiseer nadat die Garsies die afgelope naweek die liga-fase van die seisoen onoorwonne afgesluit het en heel bo aan die punteleer geëindig het, terwyl die Klofies ongelukkig hul derde plek op die punteleer verloor het ná ’n naelskraapse nederlaag teen Hoërskool Monument.
Monnas, wat tweede geëindig het, sal op hulle beurt in ’n Wesrand derby teen Hoërskool Noordheuwel sake uitspook in die ander halfeindstryd.
– Garsfontein het hul rugby-krag behoorlik vertoon toe dié skool boonop ook bo-aan die algehele promosie/relagasie punteleer in die kompetisie geëindig het. Garsies se o.16 span het ook hul ligafase van die seisoen onoorwonne en bo-aan die punteleer afgesluit.
Die Garsie Bere het Saterdag op hul tuisveld die beleërde span van Hoërskool Dr. EG Jansen met 76-5 vermorsel in hul laaste ligabepaling, wat op eersgenoemde se tuisveld plaasgevind het.
Hoewel Garsfontein – wat die verdedigende kampioen in die toernooi is en vanjaar gaan probeer om ’n vierde agtereenvolgende titel te wen – baie diepte het, is niks natuurlik onmoontlik nie.
Sylvester Booysen se manne sal eerskomende naweek beslis die teenwoordigheid van drie van hul ster-spelers mis wat tot Saterdag betrokke is by die SA Skole en SA Skole ‘A’-span se reeks teen o.18 spanne van Engeland, Ierland, Frankryk en Georgië.









– Waterkloof het die afgelope naweek Krugersdorp toe gereis met die doel om ’n oorwinning teen Monnas te jag om ’n derde plek op die punteleer te verseker. Dié opwindende wedstryd het regdeur wipplank gery. Nadat die tuisspan goed begin het, het Waterkloof teruggeveg om voor rustyd reeds vyf keer te gaan druk en só hul bonuspunt te verseker én met 31-26 voor te loop.
Klofies het kort na rustyd hul voorsprong vergroot, maar toe was dit die Wesranders se beurt om met ’n terugveg poging vorendag te kom. Met speeltyd verstreke was die Blou Tornado met drie punte voor en dit wou lyk of hulle ’n verrassing sou lewer, maar ’n effens omstrede drie in die doodsnikke van die stryd het aan die tuisspan die oorwinning met 40-36 besorg.
Waterkloof sal egter moed geskep het ná hul vertoning teen die sterk span van Monument en hulle sal beslis ’n groot poging aanwend om Garsfontein te probeer verras.
– Die Hoërskool Menlopark se naelskraapse nederlaag van 41-42 teen Hoërskool Rustenburg het hul lot verseël en plaas hulle sesde op die finale puntelys van die kompetisie.


Foto: Monya Lombard

– Op Pretoria Boys High School se Brooks veld het die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) hul Engelse bure vir die vierde jaar agtereenvolgens pakslae gegee toe hulle Pretoria se grootste skolerugby derby met 45-18 gewen het.
Dit was Affies se 70ste oorwinning in 121 wedstryde teen hul aartsvyand van oorkant die spoorlyn langs Universiteitsweg.
Met hierdie agtste agtereenvolgende oorwinning in 2026 het Affies hul seisoen met ’n wenpersentasie van 75% afgesluit, nadat hulle in die eerste deel van die seisoen vier keer in agt wedstryde pak gekry het. Affies het egter hul seisoen omgedraai, onder andere met hul eerste oorwinning in ’n dekade teen Grey College van Bloemfontein.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
