Northam Rhinos wéér die kampioen in Sibanye-Stillwater Superliga
Die Northam Rhinos het Naka Bulle die afgelope naweek met ’n baie goed uitgewerkte wedstrydplan en akkurate skopwerk na die pale geklop om hul titel in die Sibanya Stillwater Super klubrugby toernooi suksesvol te verdedig.
Hoe klop jy ’n top rugbyspan wat floreer op die krag van hul voorspelers en die momentum wat hulle deur die oorheersing in die vaste fasette kry?
Vra vir Nollis Marais, uitgeslape en ervare afrigter van die Northam Rhinos daar uit die Bosveld naby Thabazimbi.
Dié byna vergete voormalige afriger van die Bulls is deesdae aan die stuur van sake by die Rhinos in Setaria. Sy wedstrydplan het Vrydagaand teen Naka Bulle in die Sibanya Stillwater Super klubrugby toernooi perfek gewerk. Marais se span het minder drieë gedruk as hul uitdager, maar hulle het eindstryd-rugby gespeel en die resultaat was ’n oorwinning van 33-22, wat die Rhinos in staat gestel het om hul titel as kampioen van dié interprovinsiale klubrugbytoernooi te verdedig.
Nadat Naka Bulle alles voor hulle platgevee het in die ligfase én in die halfeindstryd van dié gewilde toernooi, was hulle waarskynlik die gunsteling om Vrydagaand op Loftus Versfeld die titel by die Rhinos af te neem.
Terwyl die manne van die Moot egter eenvoudig wou voortbou op hul momentum van vorige weke, het die Northam Rhinos die wedstryd benader met ’n plan uitgewerk deur ’n man wat verskeie junior provinsiale titels by die Bulls gewen het in sy dae toe hy in beheer van die unie se o.19’s en o.21’s was. Eindstryde gaan oor ’n paar eenvoudige beginsles, soos om foute te beperk, dodelik en effektief te verdedig en elke geleentheid om punte aan te teken te gebruik. Dít het die verskil gemaak.



Naka Bulle het vroeg in die wedstryd die inisiatief geneem en in die eerste twintig minute het dit gelyk of hulle hierdie keer te sterk gaan wees vir die Bosvelders. Hoewel Northam eerste punte aangeteken het via ’n strafdoel van hul Junior Springbok losskakel, Johnny Welthagen, kon hulle tot op daardie stadium die halflyn nie gereeld oorsteek nie.
Nadat die Rhinos van die eerste skrum af swaargekry het teen Naka Bulle se krag, het Bielie Grundelingh en sy makkers oudergewoonte dié voordeel in momentum omskep. Dit het gelei tot twee drieë in die eerste twintig minute van die wedstryd, wat albei die gevolg was van dryfbewegings vanaf lynstane naby die doellyn.
’n Briljante drie deur die Rhinos, wat die gevolg was van ’n duidelik uitgewerkte beweging waarin daar vlak om die skrum aangeval is, het egter die Pretorianers se momentum tydelik gestuit toe heelagter Jade Stoffels onder die pale gaan druk het.
Ses minute later het skrumskakel Gilton Mangena ’n soortgelyke drie gedruk, nadat hy blitsvinnig om die skrum gebreek en 50 meter ver genael het sonder dat ’n vinger op hom gelê is.

Dit het beteken dat die Bosvelders teen rustyd met 17-12 voorgeloop het.
Die manne van Setaria het kort na rustyd op die regte oomblik daarin geslaag om Naka Bulle se pak voorspelers naby die doellyn te verras met ’n skrumtegniek wat herinner aan die veelbesproke “Baljada” skrum waarvoor Argentinië ’n paar dekades gelede bekend was. Dit het gewerk en vir die eerste keer in die wedstryd was die manne van die Moot in trurat by ’n skrum. Toe die bal daarna vinnig wyd gestuur is, was daar spasie vir Stoffels om deur te glip vir sy tweede drie.



Foto: Frans Lombard
Skielik was die punteverskil 12 punte en die druk het opgebou teen die Pretorianers. Hul terugvegpoging het gekom in die vorm van nóg ’n drie van ’n dryfbeweging, wat aan haker Christoff Craill sy driekuns besorg het.
Nadat Naka Bulle se voorry egter vervang is, het Marais se manne weer die afbreekpunte en die skrums geteiken en dié strategie het baie goed vir hulle gewerk. Die manne van die Moot het nie net foute begin maak nie, maar onder die druk ook met hul dissipline gesukkel.
Die gevolglike strafdoele deur Welthagen en later ook Jaylen James het die druk ook op die telbord vergroot en hoewel Naka Bulle nooit gaan lê het nie, was Hansie Graaff se drie sewe minute voor die eindfluitjie té min té laat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
