Local sportSchool sportSport

Hoërskool Eldoraigne op nuwe missie om rugbypotensiaal te ontwikkel

Hoërskool Eldoraigne het groot planne met hul rugbyprogram en hoewel dié skool verlede jaar na ’n hoër liga in die Noordvaal Cup reeks gepromoveer is, is hul strukture gevestig om binnekort selfs beter te doen.

Die skolerugby gemeenskap is deesdae ’n ongenaakbare omgewing en enige skool wat in die top ligas wil kompeteer moet bereid wees om die ekstra myl te stap na sukses.

Met verskeie puik laerskole wat skitterende talent oplewer, is Centurion een van die streke in die Tshwane Metro waar meer as een hoërskool hulself tussen die heel bestes in die Noordvaal ligas kan vestig. Sukses in dié geledere sal egter deeglike beplanning, goeie voorbereiding met die hulp van die nuutste tegnologie en afrigtingsmetodes, asook behoorlike logistieke ondersteuning verg.

Al hierdie feite word reeds besef by Hoërskool Eldoraigne. Onder die bestuur van hul nuwe hoof, Retief Smith, asook hul rugbybestuur en afrigterskorps wat ’n goeie mengsel van ervaring en jong energie bevat, is daar daadwerlike planne om die Eldo Drake se rugbyprofiel dramaties te verbeter in die komende jare.

Dis nie net op die rugbyveld waar die skool vordering maak nie. Eldoraigne het onlangs bewys dat hulle sportstrukture gesond is toe hulle die Pretoria B-bond atletiek interhoër gewen het, terwyl hul swemspan ook baie goed gevaar het. Daarbenewens kompeteer hul netbal (Jubilee A-liga) en hokkiespanne op top vlak teen die bestes in Pretoria en Gauteng.

Eldoraigne se strewe na ’n hoër rugbyprofiel het reeds in 2025 begin toe dié skool se spanne algeheel só goed presteer het in die Noordvaal Cup se Bowl-afdeling, dat hulle gepromoveer is en vanjaar in die Skild-afdeling – die derde hoogste liga noord van die Vaalrivier – sal kompeteer.

Volgens Dave du Plessis, rugbydirekteur en eerstespan hoofafrigter, doen hulle moeite om op hoogte te bly van die nuuste afrigtingstegnieke en tendense, asook hulpmiddels om hul rugbyprogram op die hoogste vlak te bestuur.

Retief Smith, skoolhoof van Hoërskool Eldoraigne (tweede van links, agter, en die skool se rugby-direkteur, Dave du Plessis (langs Smith, derde van links in die agterste ry), by die groep jong afrigters wat die skool se rugbyprogram moet dryf om die Eldo Drake weer hul regmatige plek op die skolerugby gemeenskap te laat inneem. Foto: Koos Venter

“Behalwe vir die nuutste tegnologie wat ons gebruik in die skool se eie gimnasium en kondisioneringsentrum, werk ons byvoorbeeld met die bekende oogkundige, Martelie Burger, wat wondere verrig met spelers se visuele perspektief en vaardighede op die veld,” het Du Plessis verduidelik.

Volgens Du Plessis speel hulle vroeg in die seisoen in die moeilike NWU Skolesportsreeks juis om die spelers gewoond te maak aan die kompetisie wat hulle in top ligas kan verwag.  

Ook by die KES Easter Rugby Festival, die volgende bepalings op hul program, kompeteer Eldoraigne se eerstespan as enigste Pretoria-skool teen top skole vanoor die hele land. 

“Een van die ander projekte waarmee ons besig is, is om die geleentheid vir deelname in ons rugbyprogram te verhoog. Dis juis waarom ons teen groter skole wil kompeteer, sodat ons meer klem kan lê op ontwikkelingsgeleenthede. Daarvoor moet so veel moontlik seuns speel en ons sou graag teen groter skole ook met C-spanne in die junior ouderdomsgroepe en tot vier oop spanne onder die seniors wil kompeteer,” het Du Plessis gesê.

Retief Smith, skoolhoof van Hoërskool Eldoraigne (regs) gesels met die Bulls se hoofafrigter, Johan Ackermann (links) tydens die besigheidsontbyt ten bate van die skool se rugbyprogram. Foto: Casper Labuschagne
Die Bulls se hoofafrigter, Johan Ackermann, by Hoërskool Eldoraigne se rugby afrigters. Foto: Casper Labuschagne
Die Bulls se hoofafrigter, Johan Ackermann, aan die woord by Hoërskool Eldoraigne se besigheidsontbyt ten bate van die skool se rugbyprogram. Foto: Koos Venter

– Eldoraigne se rugbybestuur het verlede week hul eerste besigheidsontbyt aangebied, waar die Bulls se afrigter, Johann Ackermann, die eregas was.

In ’n paneelgesprek met die skoolhoof, Retief Smith, het Ackerman van sy ervaringe as speler en afrigter gedeel.

Ackermann het beklemtoon dat hy soms as speler en afrigter geworstel het met terugslae en teleurstellings.

“Vandag besef ek dat al daardie dinge my voorberei het vir my uiteindelike doel. Mens mag nooit vergeet dat jy as afrigter met mense werk nie. Almal beleef soms uitdagende tye en vandag kan ek spelers makliker hanteer, want ek weet hoe dit voel om deur beserings beproef te word of om deur ’n afrigter weggelaat te word uit ’n span,” het hy verduidelik.

Hy het baie klem gelê op die belangrikheid van ’n waardesisteem in spanverband, waarvolgens almal mekaar verantwoordelik kan hou.

Nadat gaste by die ontbyt die geleentehid gekry het om vrae aan Ackermann te vra het hy weer beklemtoon dat ouers nie onnodige druk op hul kinders moet plaas nie. Volgens hom het Suid-Afrika enorme talent op skolevlak en is een van die land se voordele juis die feit dat skoolseuns so vroeg op ’n hoë vlak voor groot skares speel. Maar hy het gewaarsku dat ouers steeds realisties moet wees oor die bottelnek van die sisteem hoe hoër die speler vorder en dat hulle nooit die genot-element uit die spel moet haal met onredelike druk op hul kinders nie. 

– Eldoraigne het inderdaad ’n trotste rugbygeskiedenis. Behalwe dat hulle jaarliks spelers oplewer wat op verteenwoordigende vlak provinsiale skolerugby in een van die vele nasionale toernooie speel, het die Eldo Drake al ’n stewige groep rugby-alumni opgebou wat hul merk reg oor die wêreld gemaak het.

Eldoraigne se enigste Springbok, Stephan Lewies, het in 2014 as 22-jarige toetsrugby gespeel. Lewis, wat vir die Sharks en Lions uitgedraf het, het intussen ’n draai in Japan gemaak, voordat hy meer as 80 wedstryde vir Harlequins in Engeland gespeel het. Hy het dié span in 2021 aangevoer toe hulle die Engelse Premierliga gewen het.

Nóg ’n oud Eldo Draak, Mornay Smith, speel tans vaskopstut vir die Bulls. Die 28-jarige Smith het in 2016 as leerling van Eldoraigne vir die Suid-Afrikaanse Skole “A”-span uitgedraf. Hy was onlangs sterk in aanvraag by verskeie klubs in Europa en die Bulls moes hard veg om sy dienste te behou.

Shayne Bolton, ’n speler wat in die Varsitybeker toernooi naam gemaak het en daarna deur die Irese klub Connacht gewerf is, het verlede jaar sy debuut vir die Ierse nasionale span in toetsrugby gemaak. Dié vleuel het sy rugby ook in die wit en groen streeptrui van Eldoraigne geleer.

JW (John-Wessel) Bell is nog ’n oud Eldoraigne skolier wat al internasionaal sy rugbytalent beoefen het. Bell het na skool vir die Valke, Pumas en Leeus gespeel, voordat hy na Europa uitgewyk het waar hy in die Spaanse liga betrokke was. Hy het ook 40 toetse vir Spanje gespeel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button