Waverley tennisklub se unieke toernooi lok gemengde dubbels pare vanoor Pretoria
Die Waverley tennisklub het verlede week hul tweede unieke toernooi vir gemengde dubbelspel pare aangebied en byna 30 inskrywings is van tien verskillende klubs vanoor die hele Pretoria en selfs Johannesburg ontvang.
Daar is steeds lewe in klubtennis, ten spyte van die gewildheid van nuwe sportkodes soos padel en pickleball.
Dít het die Waverley tennisklub verlede week weer bewys toe 27 pare in drie verskillende kategorieë ingeskryf het vir hul tweede unieke gemengde dubbelspel toernooi, wat by dié klub in die Moot aangebied is.
Volgens Johan Engelbrecht, hooforganiseerder van die toernooi, het die idee vir ’n gemengde dubbelspel toernooi verlede jaar ontstaan na aanleiding van die Doringkloof tennisklub se ‘Kings With Strings’ eendag-toernooi, wat jaarliks aangebied word. Dié toernooi maak egter net voorsiening vir mans en dames dubbelspel kompetisies en Waverley het besluit om hul eie unieke gemengde dubbelspel toernooi op ’n eendag-formaat aan te bied.
Volgens Engelbrecht vind die meeste klubtoernooie plaas oor meer as een dag, terwyl daar gewoonlik ook op Sondae gespeel moet word. Dit sluit weens verskeie faktore baie potensiële spelers uit. Meerdag-toernooie het ook nie dieselfde gees en atmosfeer nie, aangesien bywoning weens die program beperk is.
Pickelball en padel het in gewildheid toegeneem en tennisspelers weggelok. Een van die redes is dat toernooie in hierdie nuwe kodes gewoonlik op een dag plaasvind.
Na die sukses van Waverley se eerste toernooi verlede jaar is daar besluit om dit vroeg vanjaar weer aan te bied. Pare uit tien verskillende klubs vanoor die hele Pretoria het ingeskryf en daar was selfs ’n inskrywing van die Johannesburg Country Club.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf
Wedstryde word in die sogenaamde “fast five” formaat gespeel, wat beteken die eerste paar wat vyf potte het, die wedstryd wen. Op ’n telling van vier potte elk word ’n vyf-punt valbylpot gespeel.
Met hierdie vinnige formaat duur elke wedstryd ongeveer 20-30 minute en met die aantal inskrywings kry elke paar die kans om ten minste vyf wedstryde te speel in ’n rondomtalie formaat.
Een van die groot aantrekkingskragte na Waverley se toernooi was die kwaliteit pryse wat op die spel was. Danksy die hoofborg, Babolat, en ander soos Kloppers Sport was daar pryse en geskenkbewyse ter waarde van meer as R15000 beskikbaar.
Om by te dra tot die gees van die dag se aksie is pryse vir prettige “prestasies” soos, onder andere, “shot of the day”; “shocker of the day” en “biggest tumble” toegeken.
Die toernooi is in drie kategorieë opgedeel. Die goue groep is vir sterk spelers wat gewoonlik in top ligas meeding. Dan volg die silwer groep vir spelers wat nog sterk tennis geniet en meestal effe te oud is vir die uitdaging van die top spelers of in klubs se tweede spanne speel. Die laaste kategorie is die brons groep, waar spelers kompeteer wat die spel sosiaal en net vir die genot daarvan speel.
Oud en jonk het deelgeneem. Die jongste paar was onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, terwyl heelwat spelers ouer as 60 ingeskryf het.

Foto: Verskaf
Die finaliste in elke afdeling was as volg:
Goud: Cornelia du Plooy en Jason Black het Jenni-Mari Engelbrecht en Morné Diedericks geklop in die eindstryd. Albei pare is van die Waverley klub.
Silver: Thys Bruyns en sy ma Minette Bruyns van Koedoepark klub het Danie Botma en sy vrou Rina van Lynnwood klub in die eindstryd geklop.
Brons: In dié kategorie is ’n groepwenner bepaal, aangesien daar slegs een groep was. Dit is gewen deur Magda Diedericks en Arno Janse van Rensburg.
Die volgende toernooi word beplan vir Oktober. Enige navrae kan gerig word aan Johan Engelbrecht by 082-2688-468.
Waverley beplan intussen ook om binnekort ’n nuwe “King of Clubs” en “Queen of Clubs” enkelspel toernooi bekend te stel. Alle klubs in Pretoria se enkelspel kampioene sal genooi word om in te skryf en dié toernooi sal dan die beste klubspelers in Pretoria bepaal. Dié toernooi sal in dieselfde vinnige formaat gespeel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
