Local sportSport

Grizzlies Jeugrugby Klub hou ope dag

Jong rugbyspelers in die weste van Pretoria tussen die ouderdomme van 6 en 18 en hul ouers kan op Vrydag 17 April by die Grizzlies Jeugrugby Klub se opedag meer kom leer oor wat alles vir die komende seisoen beplan word én oor die geleenthede en voordele wat jeugrugby op klubvlak vir spelers inhou.

Dis eersdaags weer tyd vir die Jeugrugby seisoen op klubvlak om te begin en by Tuine Sportklub is die bestuur van die Grizzlies Jeugrugby Klub reeds fluks besig met die beplanning van nog ’n propvol seisoen vir al die jong Grizzlies uit die weste van Pretoria.

Dié klub bied op Vrydag 17 April vanaf 17:30 ’n ope dag aan en jong spelers word genooi om saam met hul ouers die geleentheid by te woon waar al hul vrae tydens ’n inligtingsessie beantwoord sal word.

Grizzlies se Jeugklub maak voorsiening vir elke jong speler wat graag rugby op klubvlak wil speel – van die o.6 en o.7 seuntjies wat “tag”-rugby speel, tot by die o.18 jongmanne.

Die bestuur beplan weer om vanjaar so veel as moontlik spanne in elke ouderdomsgroep vir die Blou Bulle se jeugklub ligas in te skryf.

Alle voornemende rugbyspelers in hierdie ouderdomsgroepe is welkom om by Grizzlies se Jeugklub aan te sluit, selfs al speel hulle nie rugby op skool nie.

Die Grizzlies is ’n gemeenskapsklub en streef daarna om in samewerking met die mense van Pretoria se weste rugby te gebruik om die gemeenskap op te hef. Die Grizzlies Jeugrugby Klub vier vanjaar reeds sy twaalfde bestaansjaar en word beskou as een van die top klubs in die Blou Bulle se jeugklub ligas.

Tuine Sportklub beskik oor eersteklas fasiliteite en al die huidige afrigters by die Grizzlies Jeugklub is tegnies baie goed opgelei. Die ontwikkeling van elke speler as rugbyspeler én as mens is prioriteit vir dié klub se afrigters.

Ouers of ander belangstellendes wat as afrigters of spanbestuurders betrokke wil raak by die Grizzlies Jeugrugby Klub, word ook genooi om die opedag by te woon

Een van die bekende byvoordele van jeugklub rugby is die kans wat spelers van al die spanne vanaf die o.13 ouderdomsgroep tot by die o.18 seuns kry om aan proewe deel te neem vir die Blou Bulle se verteenwoordigende jeugklub spanne, wat jaarliks deelneem aan ’n interprovinsiale toernooi teen soortgelyke spanne van ander unies soos die Sharks, Lions en Valke.

Die Grizzlies se bydrae tot die Bloubul spanne groei jaarliks en verskeie van die klub se spelers het die afgelope seisoene die geleentheid gekry om met die rooi madeliefie op die bors te speel.

Die jeugklub ligaseisoen skop gewoonlik vroeg in Augustus af wanneer die skoleligas afgehandel is, maar oefeninge vir jeugspanne sal reeds vroeër begin. Oefeninge vind op weeksaande plaas en detail hieroor sal ook tydens die opedag beskikbaar wees.

Tuine Sportklub se adres is 585 Ds. Krigelaan, Hermanstad.

Vir enige navrae kan die voorsitter, Quintin Lombard, by 083-409-9558 geskakel word. Besoek gerus ook die klub se eie facebook blad onder ‘Grizzlies Jeug Rugby Klub’.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button