Local sportSport

Grizzlies streef na silwerware in 2026

Nadat die Grizzlies van Tuine se opgang in die Carltonbeker toernooi verlede jaar aan hulle ’n historiese eerste eindstryd in dié toernooi verseker het, mik die klub vanjaar na die volgende stap – om silwerware in hul vertoonkas te kry.

Die verhaal van die Grizzlies van Tuine se opgang as top rugbyklub in Pretoria is besonders en die bestuur, afrigters en spelers van dié klub glo dat hulle vanjaar selfs beter kan doen as die besondere prestasies van die 2025 seisoen.

Sedert die Tuine Sportklub vanaf 2010 stelselmatig getransformeer is tot die spogklub met eersteklas fasiliteite wat dit vandag is, het baie water in die see geloop. Jaco Olivier (voorsitter) en sy mede bestuurslede het egter nie net daarin geslaag om die fasititeite te ontwikkel tot iets wat vir geen ander sportklub in die land hoef terug te staan nie, maar op die veld het die Grizzlies ook dramaties gevorder.

Van ’n sukkelende reserweliga klub in 2010 tot Carltonbeker finalis in 2025. Dít is in ’n neutedop die verhaal van Grizzlies, wat ook ander opwindende hoofstukke insluit.

Rodwell Baatjies, die Grizzlies se staatmaker losskakel, behoort weer een van die puntemasjiene in vanjaar se Carltonbeker toernooi te wees.
Foto: A Swart Photography

Een ding is egter seker – geen span van die Grizzlies word meer deur enige ander klub onderskat nie. As die bestuur van die klub dus in 2026 openlik sê dat hulle vanjaar daarna streef om een stap verder as in 2025 te gaan en die Carltonbeker huistoe wil bring, sal vriend en vyand hulle ernstig opneem.

– Een van die hoofrolspelers in die Grizzlies se sukses op die veld is hul hoof-afrigter, Mick Helena. Dié beskeie breier is nie ’n man vir die kollig nie, maar as kenner van die spel en bestuurder van mense het hy ’n groot aandeel gehad in die klub se sukses oor die afgelope paar seisoene.

Helena het as speler self groot hoogtes bereik. Dié boorling van Secunda was ’n gerekende losvoorspeler en in sy speeldae het hy vir Noord-Transvaal se o.19 span, Suidoos-Transvaal se o.23’s, Polisie se Carltonbeker span en die SA Magte uitgedraf.

Soos baie ander afrigters het sy afrigtersloopbaan ook heel onder op laerskole vlak begin, toe hy by Laerskool Theresapark se Bulletjierugby program betrokke geraak het. Daarna is hy deur Hoërskool Pretoria-Noord betrek by hul rugbyspanne en uiteindelik het hy die sprong na klubvlak gemaak by Noordelikes en die Dragons.

Die afgelope paar jaar het hy egter sy gewig by die Grizzlies ingegooi en jaarliks kon die verskil aan dié klub se prestasie gesien word. Deesdae is Helena een van die gesogte name in die Blou Bulle se klubstrukture wat nie net respek afdwing onder sy eie spelers nie, maar ook onder die spelers en bestuur van sy teenstanders.

 – Oor die afgelope paar seisoene sedert die Grizzies Carltonbeker status gekry het, het die klub ook ’n gesogte tuiste vir top spelers geword. Hoëprofiel Springbokke soos Morné Steyn, Ivan van Zyl en Ruan Combrinck was ’n paar jaar gelede lede van die klub as deel van Willem Strauss en Jake White se uitreik program, terwyl provinsiale spelers soos Richard Kriel, Schalk Erasmus en Janco Uys selfs in die klub se kleure in aksie was. Combrink het in 2021 sy terugkeer na rugby in ’n Grizzlies trui te maak.        

Kowie Roos, wat al vir die Bulle en Luiperds uitgedraf het en deel was van die Pumas se oefengroep, sal vanjaar weer die Grizzlies se skrum op vaskopstut anker.
Foto: Verskaf

– Volgens Helena het hy vanjaar nie noemenswaardige verliese of winste gehad in terme van spelers vir die komende seisoen nie. Dit beten egter dat manne soos die puik agtsteman, Hugo Viljoen; voormalige stut van die Bulls en Luiperds, Kowie Roos; uitstaande skakelpaar, Jan Plaatjies en Rodwill Baatjies; en die gevaarlike senter, Blance Terblanche, almal weer vir die Grizzlies beskikbaar sal wees.

Die sterk haker, André Botes, sal weer vanjaar as kaptein van die Grizzlies sy span op die veld lei.

– Die Carltonbeker toernooi skop vanjaar op 2 Mei af en die Grizzlies sal sommer van die eerste week af behoorlik getoets word, wanneeer hulle die Varsitybeker kampioen, Tuks, op hul tuisveld in Tuine ontmoet.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button