Onderwysdepartement sê tender vir skool nog nie gevra

Daar is nog geen bevestigde datum vir die begin of voltooiing van konstruksie by Eersterust Secondary School nie. Die projek het volgens die departement nog nie die tenderstadium bereik nie.

Die Gautengse onderwysdepartement sê die herbou van Eersterust Secondary School in Pretoria bly deel van sy kapitaalinfrastruktuurprogram, maar geen konstruksiedatum kan nog bevestig word nie.

Die departement se reaksie volg op ouerbetogings op 8 en 9 Oktober oor die skool se infrastruktuur, veiligheid en verlies aan onderrigtyd.

Intussen lê die departement klem daarop dat vier mobiele klaskamers voorsien is na die September 2025-brand by die skool.

Volgens die department is die opruiming ná die brand, insluitend die verwydering van asbesbevattende materiaal, afgehandel.

Onwabile Lubhelwana, woordvoerder vir Lebogang Maile, Gauteng se LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, sê die departement van infrastruktuurontwikkeling finaliseer tans hersiene ontwerpe vir konstruksie by die skool en kosteberamings word gedoen.

Volgens hom sal die inligting gebruik word om befondsing en die pad vorentoe te bepaal.

“Die projek het nog nie die tenderstadium bereik nie,” benadruk Lubhelwana. “Die konstruksie se begin- en voltooiingsdatums kan daarom nie bevestig word nie.”

Hy voeg by veiligheidsbeoordelings, insluitend asbesrisikobeoordelings en luggehaltetoetse, het bevestig dat die terrein aan die voorgeskrewe gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen.

’n Beoordeling vir die vervanging van die skool se omheining is ook volgens hom voltooi, maar die nodige goedkeuringsprosesse is nog aan die gang om fondse te bekom.

Hy bevestig dat die departement se bestuur met die skoolbestuur, beheerliggaam, ouers en gemeenskapsrolspelers oor die uitdagings geskakel het.

Kwessies wat geopper is, sluit leerders en personeel se veiligheid, sekuriteit van die terrein en die uitwerking van onstabiliteit op onderrig en leer in.

Ouers en gemeenskapslede met bande met die skool het die Departement van Onderwys se weergawe van omstandighede voor en na die staking verwerp en glo nie dat die probleme by die skool voldoende bestuur word nie.

Volgens hulle duur verskeie uitdagings voort na die optog en staking vroeg in Oktober wat die gehalte van onderrig en leerders se veiligheid raak.

Gemeenskapsaktivis Ruth Lawrence sê die departement se antwoorde weerspieël nie die werklikheid wat leerders, onderwysers en ouers daagliks ervaar nie.

Sy meen ouers word nie voldoende by besluite betrek nie en word dikwels eers ingelig nadat besluite reeds geneem is.

“Ons kinders verdien meer as beloftes. Hulle verdien ’n veilige skool, behoorlike klaskamers en onderrig wat nie deur vertragings en swak beplanning benadeel word nie,” sê Ruth.

Volgens ouers duur rotasie-onderrig voort, wat kosbare klastyd beperk. Hulle sê ook leerders en onderwysers moet slegs drie funksionele badkamers deel, wat kommer oor sanitasie wek.

Ouers sê hulle het alternatiewe, veiliger persele voorgestel waar leerders tydelik onderrig kan ontvang terwyl permanente heropbouwerk voortgaan. Volgens hulle is dié voorstelle egter nie in werking gestel nie.

DA-raadslid, Benjamin Lawrence, bevraagteken steeds die department se hantering van die veiligheids- en infrastruktuurprobleme en sê jare lange beloftes het nog nie tot voldoende oplossings gelei nie.

Sy kommentaar volg ná ’n onaangekondigde inspeksie op Maandag, 19 Oktober deur LP Nazley Shariff, wat op die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys dien, en Mike Waters, lid van die Gautengse Wetgewer se onderwys-portefeuljekomitee.

Volgens Bejnamin het die twee verteenwoordigers die skool besoek, die toestande waargeneem en onderneem om die kwessies op hul onderskeie regeringsvlakke te opper. Hy beskryf die besoek as konstruktief en sê die gesprekke was daarop gerig om moontlike oplossings te vind.

Benjamin sê die probleem strek egter verder as die klaskamers wat afgebrand het. Volgens hom hou die bestaande asbesgeboue steeds veiligheidsrisiko’s in, en is daar kommer oor ’n muur met ’n gat wat moontlike blootstelling aan asbes in een van die klaskamers kan veroorsaak.

Hy sê die departement het sedert die uitreiking van ’n verbodskennisgewing op 4 September nie, volgens sy kennis, die mure van die bestaande asbesklaskamers behoorlik geïnspekteer nie. Hy vra dat die veiligheidsverslag oor asbes en die skool se algemene gesondheidstandaarde beskikbaar gestel word.

Die vier mobiele klaskamers wat by die skool geplaas is, is volgens Benjamin steeds ongebruik en sonder meubels. Mobiele toilette wat in die derde week van Okotber vanjaar belowe is, is ook nog nie afgelewer nie. Hy bevraagteken daarom die departement se bewerings oor voortgesette ondersteuning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button