Oos-Moot klop Nelspruit in NWU Sportreeks, maar val vas in Noordvaal Cup
Nadat Hoërskool Oos-Moot verlede week met hul prestasie in die NWU Spkoleport reeks gewys het dat hulle teen die top skole op die rugbyveld kan meeding, het hul veldtog in die Noordvaal Cup se Plaat-liga die afgelope naweek minder voorspoedig afgeskop.
Terwyl Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan ’n week gelede ’n besondere prestasie behaal het met hul derde plek in die NWU Skolesport reeks, nadat hulle Hoërskool Nelspruit in die uitspeelwedstryd geklop het, kon hulle dié momentum ongelukkig nie gebruik in hul herontmoeting met die Nellies tydens die afgelope naweek se eerste rondte wedstryd van die Plaat-liga van die Noordvaal Cup toernooi nie.
Die Oosies se uitslae tot dusver vanjaar is besig om ’n patroon te vorm wat beslis so gou moontlik gebreek moet word as hulle teen Augustusmaand onder die kandidate vir die uitspeelfase van die Plaatliga wil tel.

Sedert hul eerste wedstryd vanjaar op 10 Maart het Oos-Moot nog nie twee wedstryde agtereenvolgens gewen nie. Die teenoorgestelde is ook waar, want die patroon wat hul uitslae in sewe wedstryde volg is oorwinnings wat telkens nederlae opvolg, waarna die volgende wedstyrd dan weer verloor word. Dié vreemde patroon het die afgelope twee weke selfs teen dieselfde skool gerealiseer.
Die Oosies het hul status as opkomende rugbykrag gewys deur derde in die NWU Skolesport reeks te eindig, nadat hulle Nelspruit redelik maklik met 31-14 in die uitspeelwedstryd geklop het.
Dít het gevolg nadat hulle in dié kompetisie ook met Hoërskool Middelburg afgereken het. Dié skool uit Mpumalanga is vanjaar deel van die Noordvaal Cup toernooi se top Beker-liga en saam met hul derde plek in die NWU Skolesport reeks behoort Oos-Moot baie selfvertroue uit hul oorwinning teen Middelburg te put.







Met die afgelope naweek se eerste rondte wedstryde in die Noorrdvaal Cup se Plaatliga moes Oos-Moot egter wéér teen Nelspruit speel. Dié skool was verlede jaar ook nog deel van die top Beker-liga, maar is weens relegasie vanjaar deel van die Plaat-liga.
Die Nellies het egter Saterdag op Oos-Moot se tuisveld die bordjies verhang deur met 39-27 te wen.
Ongelukkig het die Oosies se verdediging hulle Saterdag soms lelik in die steek gelaat en sodoende het hulle Nelspruit se taak makliker gemaak. Die besoekers was ná twee drieë en ’n strafdoel reeds teen rustyd met 15-7 voor.

Oos-Moot se probleme met verdediging het egter in die tweede helfte voortgeduur en Nelspruit het weer die bal wyd gespeel om op die punte gapings te vind, wat die telbord aan die rol kon hou.
Hoewel die tuisspan probeer het om terug te veg en met strafdoele en ’n voorspeler-drie selfs die gaping op die telbord weer na net sewe punte laat krimp het, kon hulle daarna nie die inisiatief behou nie. Die paroon van die wedstryd is telkens herhaal en uiteindelik het die Laevelders die uitslag beklink met ’n onderskep-drie, nadat Oos-Moot probeer het om uit hul eie gebied aan te val.
Met hierdie nederlaag sal die druk op Oos-Moot dadelik begin opbou in die moeilike liga waarin hulle kompeteer. Hulle het egter ’n ekstra week kans om foute uit te stryk, voordat hulle Hoërskool Kempton Park op 9 Mei in hul tweede ligawedstryd aandurf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
