Local sportSport

Carltonbeker toernooi skop af met oorwinnings vir Tuks, Naka Bulle en Centurion

Terwyl die nuwe Varsitybeker kampioen, Tuks, ’n waarskuwing gestuur het dat hulle in alle erns terug is as ’n kandidaat om vanjaar ’n aanslag te maak op die Carltonbeker titel, het Centurion ook hul hand opgesteek, terwyl die verdedigende kampioen, Naka Bulle, hul veldtog op ’n drafstap afgeskop het met ’n groot oorwinning oor die nuweling, TUT.

Die 2026 Castle Caltonbeker klubrugbyseisoen het die afgelope naweek afgeskop en hoewel daar nog baie rugby gespeel moet word voor die eindstryd vroeg in Septembermaand, was die vertoning van ’n paar spanne ’n waarskuwing dat vanjaar se toernooi waarskynlik die strafste in jare gaan wees.

Hoewel al drie die wedstryde Saterdag met groot tellings gewen is, het die aksie op die veld daarop gedui dat hierdie toenooi vanjaar groot opwinding en aanskoulike rugby vir die toeskouers gaan bring, wat die tendens van toenemende belangstelling in klubrugby verder sal verhoog.

Met die toetrede van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) as die sesde span in vanjaar se toernooi, is drie wedstryde op die eerste naweek van Carltonbeker aksie afgehandel.

– Tuks het sommer in die eerste week van vanjaar se toernooi gewys dat hulle as nuwe Varsitybeker kampioen weer ernstige aanspraakmakers op Carltonbeker glorie gaan wees, nadat hulle dié toernooi sewe jaar gelede in 2019 laas kon wen. Tuks het in die proses ook hul nederlaag in verlede jaar se halfeindstryd teen die Grizzlies van Tuine gewreek, deur die manne van die Weste op hul tuisveld met 42-29 te klop.

Met byna die helfte van hul spelers uit die groep wat die Varsitybeker enkele weke gelede gewen het beskikbaar vir hul Calrtonbeker veldtog, het Tuks vir die eerste keer in jare heelwat momentum aan die begin van van dié toernooi.

Die Varitybeker kampioen, Tuks, het Saterdag teen Grizzlies in Tuine ’n boodskap aan die res van die spanne in die Carltonbeker kompetisie gestuur met ’n kragvertoning in die tweede helfte, waartydens hulle ’n agterstand van 16 punte teen rustyd in ’n gemaklike oorwinning omskep het. Hier is die gevaarlike senter, Christiaan Vlok, in aksie.
Foto: Hein Roos

Hoewel albei spanne bekend is vir hul positiewe en opwindende aanslag, het Saterdag se stryd aanvanklik rukkerig begin, maar toe Tuks na tien minute se spel die eerste keer die tuisspan se verdedigingslinie kon breek, het die wedstryd vlam gevat.

Die Grizzlies se ondersteuners het al gewoond geraak dat hul span gou terugslaan nadat punte teen hulle aangeteken is en Saterdag was geen uitsondering nie. ’n Paar minute na Tuks se eerste drie is die tuisspan se linkervleuel, Jean-Pierre Snyders, in die hoek oor om sy span se rekening te open.

’n Puik breekslag van skrumskakel Jan Plaatjies het gelei tot Grizzlies se tweede drie deur flank Adrian Sebenje. Toe Plaatjies direk van die volgende afskop af in besit gestel word en 50 meter ver nael vir nóg ’n drie, het die tuisskare begin glo dat hulle wéér Tuks se nommer sou hê op die dag.

Met hul sterte in die lug het die Grizzlies weer aangeval en Snyders se tweede drie het aan hulle die bonuspunt na 35 minute verseker, wat die rustyd telling op 26-10 in die tuisspan se guns laat staan het.

Tuks se terugvegpoging in die tweede helfte was ’n waarskuwing aan al die ander spanne in die liga. Die Grizzlies se enigste punte in dié skof het gekom van ’n strafdoel na vyf minute se spel en daarna was dit eenrigting verkeer op pad na die studente se doellyn.    

Terwyl Tuks se binnesenter, Christiaan Vlok, die ghitaar agterlangs geslaan het en die Grizzlies klokslag uitoorlê het met sy aanvallende spel, het die studente se voorspelers begin oorheers en vyf onbeantwoorde drieë later kon hulle as oorwinnaars van die veld stap.

– In Groenkloof het Centurion gewys dat hulle hul huiswerk deeglik gedoen het sedert hul teleurstellende veldtog in die Sibanya Stilwater Interprovinsiale klubkompetisie en met ’n puik gebalanseerde vertoning het hulle Harlequins met 56-36 oorrompel.

Die terugkeer van Centurion se voormalige hoofafrigter, Riaan Brand, as breier van hul agterlyn het waarskynlik die legkaart in hul bestuurspan voltooi. Die verbetering was opmerklik en saam met hoofafrigter Jacques Potgieter gaan Brand waarskynlik ’n skitterene kombinasie vorm wat Centurion na nuwe hoogtes kan neem.

Hierdie foto tydens Saterdag se Carltonbeker wedstryd tussen Harlequins en Centurion spreek boekdele vir die toename in gewildheid van klubrugby en die ondersteuning van die publiek vir rugby op hierdie vlak in Pretoria.
Foto: Jorina Raath

Centurion se rekening is geopen na tien minute se spel, toe skrumskakel Corné Boland om ’n losskrum geglip het, nadat sy span deur verskeie fases gedryf het in die rooi gebied.

Quins se woelige flank, AJ Fourie, het kort daarna die ys vir sy span gebreek toe hy, met ’n paar verdedigers wat tervergeefs probeer om hom te stuit, oorgebeur het.

Daarna het Centurion egter die gaping op die telbord stelselmatig begin rek – veral toe Quins op ’n stadium weens geelkaarte met 13 man moes klaarkom – en nog vier drieë teen een het aan hulle ’n 34-12 voorsprong teen rustyd gegee.

Hoewel Gary Botha se manne nooit gaan lê het nie, het hulle ongelukkig in die tweede helfte telkens punte afgestaan net as dit lyk of hulle begin terugkom in die wedstryd. Toe Centurion self vir 9 minute met 13 man moes speel weens twee geelkaarte kort na mekaar, het die Lappiestruie egter nie die geleentheid aangegryp nie.

Centurion het uiteindelik drie drieë by hul vyf van die eerste helfte gevoeg om die tuisspan se aanslag af te weer.

– In die Moot het Naka Bulle se tweedespan onderstreep dat die seisoen lank kan raak vir TUT. Die nuweling in die kompetisie se pak voorspelers het soms hard probeer, maar was nie opgewasse vir Naka Bulle se tweedebestes nie. Die Manne van die Moot het die drieë ingeryg om uiteindelik met 58-18 te wen.

Baie water sal nog in die see moet loop en baie dinge sal moet verander voor TUT weer hul rugby-gloriedae kan laat herleef. Dié instelling het enorme potensiaal, maar hul rugby-kultuur is ongelukkig deur politiek en kortsigtige bestuur afgebreek.      

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button