Centurion skok Naka Bulle, Harlequins bons terug teen Grizzlies
Centurion rugbyklub het hul vyftigtal teen Harlequins van verlede week opgevolg met ’n verrassende oorwinning oor die verdedigende Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, terwyl Harlequins met hul oorwinning oor die Grizzlies van Tuine gewys het hulle kan beslis nie nie so vroeg al afgeskryf word nie.
Die uitslae van die eerste twee weke se Castle Carltonbeker aksie in 2026 dui reeds daarop dat spanne in dié toernooi vanjaar baie meer gebalanseerd teen mekaar gaan opweeg as oor die afgelope twee seisoene en dat uitslae nie meer so voorspelbaar gaan wees nie.
Terwyl beide verlede jaar se kampioen en finalis, Naka Bulle en Grizzlies, die afgelope naweek verloor het, is dit na net twee weke reeds duidelik dat enige van die top vyf spanne in die liga vanjaar op ’n gegewe dag teen enige van die ander kan wen.
Hierdie toedrag van sake het waarskynlik baie te doen met die feit dat al hoe meer kwaliteit spelers by klubrugby betrokke raak, terwyl die standaard van afrigting en logistieke bystand in die Castle Carltonbeker liga waarskynlik nie ver hoef terug te staan vir die meeste B-afdeling Curriebeker spanne nie.
– In Centurion het Jacques Potgieter se manne op hul tuisveld gewys hul vyftigtal teen Harlequins was geen vloekskoot nie en dat hulle ernstig is om vanjaar vir die eerste keer sedert 2022 weer die Carltonbeker daar in die suide van die stad staan te maak. Hulle het Naka Bulle verras en ’n oorwinning van 34-33 behaal.



.Centurion se bestuur het hul huiswerk gedoen en ’n baie goeie wedstrydplan uitgewerk, wat eerstens daarop gekonsentreer het om die verdedigende kampioen se sterkpunte voorlangs te neutraliseer. Die manne van die Moot is daarvoor bekend dat hulle op tradisionele wyse hul teenstander voorlangs “sag maak” en dan later in die wedstryd al hoe meer momentum bou, wat die telbord aan die rol hou.
Saterdag het Centurion hul teenstanders voorlangs aangevat in ’n wedstryd waarin waarskynlik die twee grootste pakke voorspelers in die kompetisie teen mekaar te staan gekom het. Naka Bulle kon nie hul stempel voorlangs afdwing nie en dít het aan die tuisspan ’n kans gebied om self inisiatief op die aanval te neem.

Die tuisspan was in die eerste helfte baie effektief as hulle in die rooi gebied gekom het en kon teen rustyd reeds spog met ’n bonuspunt ná vier drieë vir ’n voorsprong van 26-14
Naka Bulle het egter, soos dit ’n kampioenspan betaam, nie paniekerig geraak nie. Selfs toe Centurion vroeg in die tweede skof hul vyfde drie gaan druk, het Bielie Grundelingh en sy manne koelkop gebly en stelselmatig hul agterstand begin verklein met drie onbeantwoorde drieë om tien minute voor die eindfluitjie met een punt voor te loop.



Centurion se puik skrumskakel, Corné Boland, het sy Man-van-die-Wedstryd vertoning laat in die kragmeting bevestig met ’n strafdoel onder groot druk om sy span met een punt te laat voorloop, waarna die tuisspan kon vasbyt tot die einde om die oorwinning te verseël.
Terwyl Naka Bulle ’n gevestigde span is wat weet hoe om wedstryd te wen en beslis teen die einde van die kompetisie weer onder die voorstes sal eindig, is Centurion duidelik nog in die proses om daar te kom. Maar hulle het genoeg jong talent en ’n puik bestuurspan wat daardie proses sal kan dryf. Diegene wat egter tydens vanaar se Carltonbeker toernooi enige geld teen Albert Bakker en sy makkers wil wed, doen dit op eie risiko, want dié span lyk honger vir sukses.
– In Groenkloof het Harlquins self getoon dat hulle ’n span op ’n missie is deur baie gou die teleurstelling van verlede week se pakslae teen Centurion af te skud en met ’n puik vertoning vordendag te kom om die Grizzlies gerieflik met 36-14 te klop.
Een van die groot verskille in Quins se aanslag was die feit dat hul onder-kaptein, Eugene Hare, se talente Saterdag van die begin af beter op skrumskakel benut is, terwyl hy teen Centurion aanvanklik vleuel gespeel het. Hy was die spil waarom baie van hul planne gedraai het en dit het op die telbord gewys.
Harlequins se struktuur op die aanval én verdediging verbeter elke week en dié feit het hulle nie net in staat gestel om meer klinies met die bal in die hand te speel nie, maar ook Grizzlies se aanvallende aanslag baie meer effektief af te weer.

Foto: Jorina Raath

Foto: Jorina Raath

Foto: Jorina Raath
Met hul positiewe spel op die aanval het Quins teen rustyd reeds die bonuspunt vir vier drieë in die sakkie gehad, terwyl hul goeie verdediging die besoekers kon verhoed om enige punte aan te teken in die tweede skof.
Harlequins beskik oor ’n baie goeie span en puik afrigters. Dis duidelik dat hul kohesie ook elke week verbeter en enigiemand wat hul hoofafrigter, Gary Botha, se karakter ken, sal weet dat niemand dié span ooit vanjaar moet onderskat nie.
Wat Grizzlies betref, die klub het ’n persona van sy eie ontwikkel oor die afgelope paar seisoene en hulle sal beslis ook terugbons. Dit raak nie makliker nie, veral as in ag geneem word dat hul eerskomende naweek gasheer moet speel vir Naka Bulle in ’n herhaling van velrede jaar se eindstryd. Maar een ding wat soos ’n paal bo water staan is dat die manne van die Weste nie terugstaan vir enige uitdaging nie en veral op hul tuisveld sal niemand net opdaag om ligapunte te kom haal nie.
– Tuks se tweedespan, die Fezelas, het TUT se eerstes, wat as toegif deel is van vanjaar se Carltonbeker liga, met 56-15 geklop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
