Naka Bulle terug op die wenpad, Tuks karnuffel Harlequins
Terwyl Tuks en Naka Bulle groot tellings aangeteken het in die naweek se Carltonbeker klubrugby aksie, het Centurion ná hul goeie begin in die kompetisie ’n terugslag gehad op die TUT kampus in die weste van Pretoria.
Tuks het die afgelope naweek hul status as ’n ernstige bedreiging vir die spanne wat die afgelope seisoene die Carltonbeker toernooi oorheers het herbevestig met ’n weghol-oorwinning oor Harlequins, terwyl Naka Bulle met ’n vyftigtal teen Grizzlies teruggebons het ná verlede week se onverwagse nederlaag teen Centurion.
Daarbenewens het Centurion se tweedespan tegnies hul Carltonbeker statistiek beduiwel met ’n nederlaag teen TUT se eerstespan tydens die afgelope naweek se aksie in hierdie toernooi.
– In Tuine het Naka Bulle hul frustrasie van verlede week se nederlaag op hul westelike bure uitgehaal en agt drieë ingeryg om die Grizzlies met 52-21 pak te gee.
’n Blitzkrieg van drie drieë in tien minute deur Naka Bulle vroeg in die eerste helfte het beteteken dat Grizzlies toe reeds die telbord-druk moes verwerk.

Foto: Jorina Raath
Die tuisspan het probeer terugveg en die bloeding vir eers gestop met ’n drie van hul eie om die rustyd telling op 21-7 in die manne van die Moot se guns tot stand te bring.
Toe Naka Bulle vroeg in die tweede helfte weer toeslaan vir hul bonuspunt drie, het die druk verder toegeneem.
Blanche Terblanche (senter) se puik drie het Grizzlies se ondersteuners weer hoop gegee. Selfs ná die besoekers se vyfde drie het die manne van Tuine wéér gaan druk om te sorg dat hul hoop om sake om te keer lewend bly, maar twee langafstand drieë teen hulle het die taak basies onbegonne gemaak.
Linkervleuel JJ Mothlodi se drie het die vyftigtal vir Naka Bulle verseker, terwyl die Grizzlies – anders as wat hul ondersteuners gewoond is – nié daardie vierde drie vir ’n bonuspunt kon aanteken nie.
– In Groenkloof het Tuks hul stempel behoorlik afgedruk op hul kragmeting met Harlequins deur agt driee te druk om die Blokkiestruie met 61-5 kaf te draf.

Foto: Jorina Raath
Tuks het sommer gou voorlangs begin oorheers en reeds in die sewende minuut van die wedstryd byna 20 meter ver gedryf vanaf ’n lynstaan vir loskopstut Barnard Nortjé se drie, wat die telbord aan die rol gesit het.
Vier minute later, toe losskakel Divan du Toit oorgeduik het vir Tuks se tweede drie, wat dit duidelik uit die studente se dryfspel dat die middag lank sou word vir die tuisspan.
Harlequins het na byna ’n halfuur se spel kortstondig teruggekom in die prentjie toe heelagter Cornel Korff hul enigste drie gaan druk het, maar daarna was dit eenrigting verkeer in terme van besoeke aan die doelgebied.
’n Kombinasie van voorspeler oorheersing en soms gewoon swak verdediging deur die tuisspan het Tuks in staat gestel om teen rustyd reeds die bonuspunt te verseker met vier drieë.

Foto: Jorina Raath
’n Rooikaart aan een van Harlequins se voorrymanne, wat na bewering ’n speler getrap het, het sake nog verder bemoeilik en verseker dat hulle die helfte van die tweede skof met 14 spelers moes aandurf. Dit het boonop na sewe minute se spel in die tweede helfte 13 geword toe ’n geelkaart ook uitgepluk is vir ’n tegniese oortreding, terwyl sake regtig chaoties geraak het met nóg ’n gele vir Quins na Tuks se vyfde drie.
Die baie kaarte het Harlequins se taak net verder bemoeilik en Tuks het dit uitgebuit deur die bal lug te gee, om uiteindelik agt keer te druk.
– Centurion rugbyklub se bestuur sal waarskynlik met kommer kennis neem van hul tweedespan se nederlaag (19-31) teen TUT in die naweek se ander Carltonbeker wedstryd. TUT se eerstespan het vajaar voorwaardelike toestemming gekry om in dié liga te kompeteer, maar dié klub se eerstespan speel volgens ooreenkoms teen die vyf top klubs se naasbestes.
Terwyl TUT teen Tuks en Naka Bulle se tweedespanne groot nederlae gely het, kon hulle die afgelope naweek daarin slaag om Centurion te klop. Dié uitslag laat rooiligte flikker oor Centurion se diepte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
