Local sportSport

Reitz stoeiklub lok byna 300 stoeiers na herdenkingstoernooi

Stoeiers het van so ver as Bloemfontein in die Vrystaat, Klerksdorp in Noordwes en Pietersburg in Limpopo gereis om die afgelope naweek deel te wees van die Reitz stoeiklub se Reitz 90ste Ope stoeitoernooi, wat by die Noord-Gauteng Stoeivereniging se saal in Menlopark aangebied is.

Die respek en positiewe reputasie wat die legendariese Reitz stoeiklub in die Moot van Pretoria oor nege dekades opgebou het, was die afgelope naweek duidelik toe 288 stoeiers van 26 klubs uit vier verskillende provinsies ingeskryf het om deel te wees van dié klub se Reitz 90ste Ope stoeitoernooi.

Reeds vroegdag was die Noord-Gauteng Stoeivereniging se saal in Menlopark ’n miernes van bedrywighede toe al die stoeiers ingeweeg moes word vir die aksie waartydens juniors, seniors en meesters – seuns, mans, dames en dogters – in beide die Grieks Romeinse en Vrystyl formate in aksie was.

Baie spesiale medaljes met ’n ontwerp wat die klub se 90ste bestaansjaar herdenk was vir die dag se beste stoeiers op die spel.

Na die openingseremonie en ’n kort oorsig oor die geskiedenis van die klub, voor die aksie in alle erns kon begin, was daar ook ’n spesiale simboliese seremonie waartydens die huidige stoeiers van die Reitz stoeiklub ’n kring op die mat gevorm het. Al die nasionale stoeiers wat die klub oor 90 jaar opgelewer het en wat teenwoordig kon wees by die toernooi, het daarna rondom hierdie aktiewe stoeiers gaan stelling inneem, waarna alle stoeiers teenwoordig in die saal wat ooit in dié klub se kleure gestoei het, ook deur die seremoniemeester gevra is om nóg ’n buitenste kring om die res te vorm.

Een van die interessante feite wat met hierdie emosionele seremonie duidelik geword het, was dat die Reitz stoeiklub oor die jare as bron gedien het vir die groei van die sport in Pretoria, aangesien baie van die derde kring se manne deesdae afrigters en bestuurslede van jonger klubs reg oor die stad is.

Baie spesiale medaljes met ’n ontwerp wat die klub se 90ste bestaansjaar herdenk was vir die dag se beste stoeiers op die spel tydens Saterdag se Reitz 90ste Ope stoeitoernooi in die Noord-Gauteng stoeivereniging se saal in Menlopark. Hier wys Christo Reitz hoe die medaljes lyk.
Foto: Koos Venter
Lede van die Reitz familie wat Saterdag se Reitz 90ste Ope stoeitoernooi kon bywoon, poseer vir ’n foto. Agter, van links, staan Christo Reitz en sy vrou, Annemarie Reitz; Wessel Badenhorst en sy vrou, Karin (Reitz) Badenhorst; Barco Badenhorst (met sy dogter, Iamé) en Deon Reitz. Voor staan Adri Badenhorst (Barco se vrou) met haar seun, Ben-Lourens.
Foto: Koos Venter

Terwyl die aksie later goed op dreef was, is eregaste van die toernooi uitgenooi na nóg ’n huldiging-seremonie by die saal van die Noord-Gauteng Brugvereniging, wat aangrensend aan die Noord-Gauteng Stoeivereniging se saal is.

By hierdie geleentheid het Christo Reitz, kleinseun van die stigter, Johnny Reitz, en een van die klub se voormalige Springbokke, ’n kort oorsig oor die klub se geskiedenis gegee. Hy het veral klem daarop gelê dat een van sy oupa se hoof doelwitte met die stigting van die Reitz stoeiklub was om jong seuns van die strate af te hou en by ’n gesonde en opbouende sport soos stoei betrokke te kry.

“As ons kyk na die klub se roemryke geskiedenis en dit was oor 90 jaar bereik is, dink ek my oupa het in sy doel geslaag en ons doen dit steeds,” het hy opgemerk.

Hy het ook beklemtoon dat een van die klub se suksesresepte was om die genot-faktor van gesonde oefening, asook die belangrikheid van waardes soos harde werk, dissipline en sportmanskap vroeg reeds deel van jong stoeiers se reis met die sport te maak.

Nog een van die klub se strydrosse, Piet van Rensburg, het ’n nostalgiese terugblik gegee oor sy ervarings as stoeier en later as afrigter by die Reitz Stoeiklub.

’n Reuse verjaardagkoek was deel van die eregaste se spyskaart tydens die seremonie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button