Noord-Gauteng speel gasheer vir nasionale Grieks-Romeinse stoeikampioenskap
Suid-Afrika se stoeigemeenskap het die afgelope naweek van heinde en verre na Pretoria gereis om aan die nasionale Grieks-Romeinse stoeikampioenskap in Menlopark deel te neem.
Noord-Gauteng Stoei het die afgelope naweek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie nóg ’n reuse logistieke uitdaging met groot sukses aangedurf toe die keur van Suid-Afrika se stoeiers, stoei-afrigters en ondersteuners van dié klassieke sport na die vereniging se hoofkwartier in Menlopark opgeruk het om aan die nasionale Grieks-Romeinse stoeikampioenskap deel te neem.
Daar was nie plek vir ’n muis op die paviljoene in Gauteng-Noord se stoei-kompleks nie, terwyl stoeiers en ondersteuners ook rondom die matte saamgedrom het om die aksie te volg en die deelnemers aan te moedig.



Foto: René Joubert
Hoewel Vrystyl-stoei deesdae waarskynlik die meer gewilde van die twee kodes is, is die Grieks-Romeinse styl die ouer een van die twee. Dit word reeds sedert die 1830’s in Europa beoefen. Vrystyl-stoei het sy ontstaan eers aan die einde van die negentiede eeu met stelselmatige ontwikkeling in Brittanje en Amerika gehad.
Albei die moderne style het egter ontwikkel uit die antieke stoeistyle van Egipte, Mesopotamië en Griekeland.
Die Grieke het stoei beskou as ’n noodsaaklike deel van hul liggaamsopvoeding en militêre opleiding. Daarom was dié sport reeds sedert 708BC deel van die antieke Olimpiese Spele.

Foto: Koos Venter
Die grootste verskil tussen die twee kodes is dat die Grieks-Romeinse styl baie meer konsentreer op die gebruik van die bolyf en arms, terwyl stoeiers in die Vrystyl kode ook hul bene mag gebruik om ’n teenstander te oorrompel. Die teenstander se bene mag ook aangeval word om hom mat toe te neem. In die Grieks-Romeinse styl mag die stoeier nie sy teenstander se bene aanval nie. Die klem is dus op krag in die bolyf en die regte manier om ’n teenstander met gooi-tegnieke mat toe te neem sonder om sy bene aan te val of self bene te gebruik.
Suid-Afrika se stoeikultuur is oor baie jare gedomineer deur die Vrystyl kode en die land se eerste werlike deurbraak op die internasionale verhoog in die Grieks-Romeinse styl was toe Carel Crous in 1998 die silwer medalje die 57 kg gewigskategorie by die Kadette Wêreldkampioenskap gewen het.
Een van Suid-Afrika en Noord-Gauteng se stoei legendes, Willem Putter, het in 2017 Suid-Afrika se eerste Grieks-Romeinse wêreldkampioen ooit geword toe hy Nikolai Kazakov van Rusland by die Meesterswêreldkampioenskap in dié kode in Bulgarye verslaan het.




– Altesaam 413 stoeiers het vanoor Suid-Afrika vir die naweek se kampioenskap in Pretoria ingeskryf en ’n totaal van 756 stoei wedstryde is op vier matte in die Noord-Gauteng stoeisaal afgehandel.
Byna ’n kwart van die stoeiers wat in aksie was, is plaaslike deelnemers uit die geledere van Noord-Gauteng.
Vanjaar se Grieks-Romeinse stoeikampioenskap was ’n baanbreker geleentheid vir die jonger stoeiers. Vir die eerste keer ooit was stoeiers in die ouderdomsgroep 8-11 jaar deel van die aksie by dié kampioenskap.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
