Local sportSport

Tuks wen Lucas Strachan-skild eerste keer in sewe jaar

Die eerste rondte van die Carltonbeker kompetisie vir 2026 is die afgelope naweek afgehandel en Tuks het vir die eerste keer hierdie dekade daarin geslaag om ’n trofee in dié toernooi te wen.

Die huidige Varsitybeker kampioen, Tuks, het hul trofee-droogte in die Carltonbeker kompetisie die afgelope naweek gebreek deur die Lucas Strachan-skild vir die eerste keer in sewe jaar te wen.

Volgens tradisie word dié skild toegeken aan die span wat na afloop van die eerste rondte bo aan die punteleer van die Carltonbeker toernooi is.

Dian Coetzee en sy makkers het Centurion se onoorwonne rekord gebreek met hul oorwinning van 50-31 en daarmee ook hul eie punteverskil op die punteleer na 83 opgeskuif, wat hulle in staat gestel het om die gesogte Lucas Strachan-skild te verower.

Tuks en Naka Bulle het die eerste rondte afgesluit met 17 ligapunte elk, maar Tuks se punteverskil van 83 (verskil tussen punte aangeteken en punte afgestaan) is 27 punte beter as dié 56 van die manne van die Moot.

Centurion sluit die eerste rondte van die toernooi af in die derde plek op die punteleer. Hul 16 ligapunte plaas hulle net een punt agter Tuks en Naka Bulle. Met hul nederlaag teen Tuks het Centurion nie net hul onoorwonne rekord prysgegee nie, maar ook die kans verbeur om geskiedenis te maak deur die Lucas Strachan-skild vir die eerste keer ooit te wen.

Na Centurion volg Harlequins in die vierdie plek op die punteleer met sewe ligapunte, terwyl verlede jaar se finaliste, Grizzlies, in die vyfde plek lê met twee ligapunte.

– Tuks het tydens Saterdag se wedstryd van die eerste afskop af die pap dik aangemaak en die tempo van die spel dadelik opgejaag. Dit het daartoe gelei dat hul slot, Ruan Coetzee, die telbord reeds in die tweede minuut van die aksie aan die gang kon sit met ’n drie langs die pale.

Centurion het egter hul ondersteuners laat asem skep deur gou terug te slaan met ’n krag-drie, toe hul voorspelers vanaf ’n lynstaan oorgedryf het om haker SJ Bezuidenhout in staat te stel om af te rond.

Hoewel die besoekers hard probeer het om met goeie verdediging en goeie spel by die afbreekpunte die studente se ritme te versteur, het Tuks tog in die eerste helfte nog twee keer gaan druk. Centurion het kort voor die omdraaislag self weer die doellyn gehaal om die rustyd telling op 24-12 in die guns van die tuisspan te laat staan.

Centurion het in die tweede helfte verbete bly veg om hul onoorwonne rekord te probeer beskerm, maar Tuks het daarin geslaag om nog vier keer te gaan druk om die vyftigtal op die telbord te kry. Daarenteen het Centurion self nog drie keer oor die doellyn gekom, wat ten minste aan hulle ’n waardevolle bonuspunt besorg het.

– In die Moot het die tuisspan, Naka Bulle, waarskynlik geweet dat hulle ’n groot telling nodig het as hulle die Lucas Strachan-skild wil behou. Die verdedigende kampioen het ook nie op hulle laat wag nie en dadelik begin aanval, wat tot linkevleuel JJ Motlhodi se drie na minder as twee minute se spel gelei het.

Harlequins, wat weekliks verbeter onder die leiding van hul nuwe afrigter, Gary Botha, het egter teruggeslaan met ’n drie deur hul woelige haker, De Wet Lottering. Die Blokkiestruie het selfs kortstondig voorgeloop nadat hul skrumskakel, Eugene Hare, die tuisspan oorhoops gevang het om deur te glip vir sy eerste drie.

Haker Franco Botha se eerste drie kort daarna vir Naka Bulle het egter sake weer uitgebalanseer, maar sy direkte teenstander, Lottering, se tweede drie het die besoekers se neuse wéér voor gekry. Toe agtsteman Carling Forwood boonop kort voor rustyd oorduik vir sy span se bonuspunt drie om die telling op 31-17 in die besoekers se guns te laat staan, het die Quins ondersteuners begin glo ’n verrassing is op die kaarte.

Die tuisspan was egter in ’n omgekrapte bui na die omdraaislag en terwyl hulle die tempo opgejaag het, kon hulle met kliniese en interaktiewe spel ses onbeantwoorde drieë gaan druk voor Quins tot verhaal kon kom. Die besoekers het, hoofsaaklik weens puik spel van Hare, daarin geslaag om nog twee keer te druk, voordat Naka Bulle die dag se rekening gesluit het met hul tiende drie kort voor die eindfluitjie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button