Gedenkwaardige argitekmodel van Loftus Versfeld aan Bulle geskenk
’n Baie besondere deel van die geskiedenis van Loftus Versfeld, een van die bekendste bakens in Pretoria, het verlede week in die kollig gekom met die skenking van ’n unieke skaalmodel van die stadion aan die Blou Bulle Rugby-unie.
Die Blou Bulle as rugbyspan is wêreldberoemd, maar daar is ook ’n ander aspek wat die Bulle se rugby-tradisie en geskiedenis uniek maak. Dis die besondere verhaal van Loftus Versfeld, wat vir baie jare al een van die bekendste bakens in die hoofstad is.
Net soos die span wat daar gevestig is, is dié rugby-fort ook wêreldberoemd. Internasionale rugbysterre het al getuig van die magiese atmosfeer wat hulle ervaar het wanneer hulle die kans kon kry om op die groen gras van Loftus uit te draf as die paviljoene stampvol is.
Tydens ’n spesiale geleentheid in die skadu van Loftus Versfeld se hoofpaviljoen het die kollig verlede week geval op ’n besondere aspek van die geskiedenis van hierdie beroemde stadion, toe die familie van wyle Ockie Spruyt, ’n voormalige direkteur van BSSC Argitekte, ’n skaalmodel van die stadion aan die Bulle Rugby-unie (BBRU) geskenk het.
BSSC Argitekte was die firma wat sedert 1977 verantwoordelik was vir die stelselmatige bou van die huidige Loftus Versfeld stadion soos hy vandag lyk. Dit het begin by die hoofpaviljoen in 1977. Daarna het die noordpaviljoen in 1984 gevolg, terwyl die suid-paviljoen in 1988 aan die beurt gekom het. Die oospaviljoen is laaste bygevoeg in 1993. So is die stadion stap vir stap kontant gebou.
Nadat die stadion se vier paviljoene gebou is, het verskeie veranderinge, verbouings en verbeterings oor die afgelope 33 jaar gevolg, waarby BSSC Argitekte ook betrokke was. Dit sluit in die bou van die presidents-balkon, kantoorruimtes in drie van die paviljoene, onthaalsale, die konferensielokaal, ’n mediese sentrum, kaartjieskantoor, verbeterde mediafasiliteite, ekstra suites op die boonste vlak van die hoofpavijloen en vele meer.
Intussen het Ockie Spruyt se tweede oudste seun, Jan, homself ook as argitek bekwaam. As student het Jan Spruyt vakansies by BSSC Argitekte gewerk en dit was hy wat tydens sy studentejare in die 1990’s ’n skaalmodel van Loftus Versfeld gebou het as deel van ’n studie-projek.
Onder leiding van wyle Ockie se wedewee, Marie, het die familie besluit om dié model aan die BBRU te skenk vir bewaring. Sy is tydens verlede week se seremoniële oorhandiging van die model vergesel deur haar oudste en jongste seuns, Ockie Jr. en Stefan. Jan woon deesdae in Namibië en kon nie die seremonie bywoon nie. ’n Vierde broer, Gerrit, woon deesdae in Nederland.
Behalwe vir die Spruyt-famlie, asook verteenwoordigers van die BBRU en die Blou Bulle Maatskappy (BBM), was daar ook ander gaste by die seremonie teenwoordig wat almal instansies verteenwoordig het wat oor die jare by die bou van Loftus Versfeld betrokke was. Hulle is Johann Snyman van BSSC Argitekte, Marshall Dirkse van Schalkwyk (bourekenaar) en Erhard Kruger (strukturele ingenieur).

Foto: Koos Venter
Ockie Spruyt en sy vennoot van meer as 50 jaar, Johann Snyman, het ’n besondere verbintenis met die vestiging en ontwikkeling van Loftus Versfeld gehad, aangesien hulle van die begin af betrokke was by die ontwerp van elke fase van die stadion. Hul verbintenis gaan egter verder as net hul professionele betrokkenheid.
Snyman het tydens die seremonie vertel hoe hulle as skoolseuns by Affies gereeld in voorwedstryde op Loftus Versfeld uitgedraf het. Hulle was ook albei in 1952 instrumenteel in die ontwikkeling van ’n unieke trui vir Affies se eerste rugbyspan, wat hulle van die res van die spanne sou onderskei. Dié trui – dieselfde ontwerp wat Affies se Wit Bulle vandag nog gebruik – is die eerste keer tydens ’n toer na die Kaap in 1952 gebruik.
“Ons het saam in 1953 by Tukkies as argitekstudente ingeskryf en in 1963 het ons vennote geword – ’n verbintenis wat meer as 50 jaar sou duur,” het Snyman vertel.
Nog ’n besonder interessante verbintenis wat Spruyt en Snyman met Loftus Versfeld het, was dat hulle
albei op Saterdag 30 Augustus 1969 toeskouers was op die tydelike paviljoen wat ineengestort het toe Noord-Transvaal teen die Wallaby-toerspan gespeel het.
“Gelukkig het nie een van ons ernstig seergekry nie,” het Snyman gesê.
Ironies genoeg was dit dié twee jong argitekte wat ’n jaar later, in 1970, betrokke geraak het by die eerste belanning om die nuwe Loftus Versfeld te bou.
Spruyt en Snyman het via BSSC Argitekte ’n besonder groot nalatenskap in verskeie ander projekte gehad tydens hul vennootskap van vyf dekades. Bekende staatsgeboue soos die Civitas gebou op die hoek van Andries- en Strubenstrate in die stad, is ook deur hul kundigheid ontwerp. Verskeie woonstelblokke in die ou middestad en Sunnyside was ook projekte van dié twee vriende.
Buite die grense van Pretoria was hulle was ook betrokke by die beplanning van die nuwe Ellispark stadion, wat in 1981 voltooi is, terwyl die SAUK gebou in Aucklandpark, Johannesburg, ook deel van hul projekte was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.