Baanbreker sussies presteer op stoeimat
Die Brewis susters van Pretoria is besig om stap vir stap die stoei annale in Suid-Afirka op provinsiale en nasionale vlak te herskryf, terwyl hulle ook die internasionale stoeigemeenskap van hulle vermoëns op die stoeimat laat kennis neem.
Amateur stoei vir vroue is reeds sedert 1987 deel van dié antieke sport se internasionale opset, terwyl die eerste vrouestoeiers eers in 2004 aan die Olimpiese Spele kon deelneem.
In Suid-Afrika het vroulike deelname aan dié sport oor die afgelope 20 jaar merkwaardig gegroei en deesdae is dit nie vreemd om vroulike deelnemers in alle ouderdomsgroepe by nasioanle stoeitoernooie in Suid-Afrika in aksie te sien nie.
Twee jong susters van Pretoria is nie net op plaaslike vlak baanbrekers op die stoeimat nie, maar het albei reeds op die internasionale verhoog hul merk gemaak.
Soos in so baie Suid-Afrikaanse huishoudings is sport ’n integrale deel van Morné en Vicky Brewis en hul gesin se daaglikse bestaan. Morné is welbekend as een van Suid-Afrika se top meesters stoeiers wat reeds sedert sy junior dae in dié sport presteer.

Foto: Verskaf
Hy het as Boksburger Oos-Transvaal kleure verdien in sy junior dae en later ook in die meesters-afdeling. (Deesdae word dié federasie Ekurhuleni Stoei genoem). In 2015 het hy vyfde in sy gewigsafdeling geëindig by die meestes wêreldkampioenskap.
Dit is dus nie vreemd dat die stoei-gogga Brewis se twee dogters, Chloe (18) en Lashay (15) redelik vroeg gebyt het nie. Nadat die gesin na die Moot in Pretoria verhuis het, het die twee dogters en hul pa almal by die Menlopark stoeiklub betrokke geraak.
– Chloe Brewis se prestasies op die stoeimat strek reeds letterlik reg oor die wêreld. Nadat sy as 6-jarige die sport begin beoefen het, het sy sommer gou uitgestyg en sy is tot vandag nog nooit by ’n nasionale kampioenskap geklop nie.
In 2019 word sy as o.15 deelnemer die enigste Suid-Afrikaanse vroue-stoeier ooit om ’n titel by Europa se grootste amateur stoeitoernooi, die Tallinn Ope, te wen.

Foto: Verskaf
Twee jaar gelede, in 2024, verwerf sy die silwer medalje by die Afrika kampioenskap in Egipte en verlede jaar bring sy die goue medalje terug van dieselfde kampioenskap in Marokko.
In 2025 is sy aangewys as Noord-Gauteng Stoei se Vrouestoeier van die Jaar.
Chloe het verlede jaar aan die Hoërskool CR Swart in Waverley gematrikuleer, waar sy ook in netbal, hokkie, sagtebal en atletiek uitgeblink het. Na matriek ontvang sy ’n stoeibeurs van die Hastings College in Nebraska, VSA, waar sy vir ’n graad in Sportwetenskap inskryf.
In Februarie vanjaar maak sy reeds impak toe sy by die presigeryke ‘Great Plains Athletic Conference’ (GPAC) kampioenskap as kampioen gekroon word, waarna sy onder die top agt eindig by die ‘National Association of Intercollegiate Athletics’ (NAIA) kampioenskap.

Foto: Verskaf
Chloe berei tans voor vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap, wat op 20 Julie in Pretoria aangebied word. Prestasie by dié kampioenskap sal vanjaar ekstra belangrik wees, aangesien die nasionale span wat die land van 23 Julie tot 3 Augustus by die Statebond Spele in Glasgow gaan verteenwoordig, direk daarna aangewys gaan word.
Dan is daar ook nog die Olimpiese Spele van 2028 in haar agterkop. Om daarvoor te kwalifiseer, moet Chloe in Maart 2028 onder die top twee by die Afrika kampioenskap eindig – ’n prestasie wat sy reeds twee keer reggekry het.
– Kleinsus Lashay Brewis was net 3-jaar oud toe sy reeds aan stoei blootgestel is en saam met haar pa en sussie by die Menlopark stoeiklub begin oefen het.
As 8-jarige het sy reeds aan haar eerste provinsiale toernooi deelgeneem en, net soos haar ouer suster, is Lashay nog by elke nasionale kampioenskap waaraan sy deelgeneem het as kampioen gekroon.

Foto: Verskaf
In 2024 verwerf sy ’n silwer medalje by die die Tallinn Ope in Estland en verlede jaar eindig sy vierde by die Afrika kampioenskap in Egipte.
Strandstoei is ’n stoeistyl wat sedert die amptelike formulering daarvan in 2004 wêreldwyd in gewildheid toeneem en Lashay Brewis word beskou as een van Suid-Afrika se beste strandstoeiers. Sy het verlede jaar as o.15 strandstoeier die brons medalje by die Afrika kampioenskap in Marokko gewen.
Nadat sy vroeër vanjaar goud gewen het in beide die o.15 afdeling en die o.20 Presidente liga, het sy in die o.17 afdeling ’n vyfde plek by die Afrika kampioenskap in Egipte verwerf.
In 2025 is Lashy as Noord-Gauteng Stoei se beste vroue strandstoeier aangewys. Net soos Chloe is kleinsus Lashy ook veelsydig en blink uit in netbal en atletiek in die kleure van die Afikaanse Hoër Meisieskol Pretoria, waar sy tans ’n graad 9 leerling is. Sy hoop om later in haar suster se voetspore te volg en in Amerika te gaan studeer, waar sy ook haar talente op die stoeimat kan uitleef.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
