Local sportSport

Harlequins verbeter hul posisie op Carltonbeker leer ná spannende stryd teen Centurion

Harlequins het Saterdag in Centurion gewys dat hulle ’n groot faktor gaan wees in die tweede rondte van vanjaar se Sanlam Carltonbeker toernooi deur die tuisspan in ’n spannende stryd te klop.

Die Sanlam Carltonbeker se tweede rondte het Saterdag met ’n knal afgeskop toe Harlequins die bordjies teen Centruion verhang het deur hulle in ’n opwindende en spannende stryd, wat tot die laaste sekondes in die weegskaal was, met 40-39 te klop.

Harlequins het op Centurion se tuisveld wraak geneem nádat Jacques Potgieter se manne ’n vyftigtal teen hulle behaal het toe die toernooi in Mei afgeskop het.

Die wedstryd het teen ’n hoë tempo begin en die tuisspan het hul geleenthede aanvanlik beter gebruik om twee keer te druk én ’n strafdrie in hul guns te ontvang, wat hulle na 20 minute met 17-0 voor kon laat loop.

Nadat Harlequins self kon oordryf, het die spanne gaan water drink met die telling op 17-5 in Centurion se guns.

Met skrumskakel en onderkaptein, Eugene Hare, op sy heel beste het Quins die bal lustig begin rondgooi in die tweede skof. Halfpad deur dié helfte het hulle reeds vier onbeantwoorde drieë gaan druk – twee daarvan deur die einste Hare, wat Centurion telkens gefnuik het met vinnige tikskoppies as hulle oortree het.

Centurion het kortstondig probeer terugveg met ’n voorspeler-drie, maar toe Harlequins met tien minute se oorblywende speeltyd weer druk om die telling na 40-24 te rek, het die tuisspan ’n wonderwerk nodig gehad.

Dít het hulle so byna reggekry met drie drieë in die laaste nege minute, maar vier verbroude doelskoppe in die wedstryd het egter die naelskraapse oorwinning aan Quins verseker, al het die tuisspan een drie meer as hul teenstanders gedruk.

Centurion het egter met hul sewe drieë, en die feit dat hulle met minder as sewe punte verloor het, self twee ligapunte uit die wedstryd verdien. Dié twee punte het hulle na die tweede plek op die punteleer laat opskuif, met Naka Bulle wat nou in die derde plek is. Tuks, wat twee weke gelede die Lucas Strachan Skild gewen het deur bo aan die punteleer te eindig na die eerste rondte, is steeds in dié posisie.

– Die toernooi sal nou weer vir twee weke onderbreek word. Tuks en TUT neem hierdie week deel aan die Universiteite Sport SA (USSA) toernooi in die Oos-Kaap, terwyl al die spanne en hul ondersteuners die geleentheid kry om die Springbokke op 11 Julie te ondersteuen, wanneer hulle in die Nasiesbeker reeks teen Skotland op Loftus Versfeld sal speel.

Op 18 Julie word die Carltonbeker toernooi hervat met Naka Bulle wat hul veldtog in snelrat sal wil kry om weer die voorste plek op die punteleer in te neem, wanneer hulle Centurion op hul tuisveld in die Moot sal pak.

Grizzlies, wat niks minder as drie bonuspunt oorwinnings én ’n bietjie geluk nodig het as hulle Harlequins wil inhaal om vir die halfeindtrondte te kwalifiseer nie, sal juis daardie naweek die kans kry om nader aan die manne van Groenkloof te skuif wanneer die twee spanne mekaar in Tuine pak.

Die versekeringsreus, Sanlam, het verlede week aan boord gekom as nuwe titel-borg vir die Carltonbeker klubrugby toernooi. Van links is die president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), Willem Strauss, Gary van Loggerenberg (Borgskapbestuurder van Sanlam) en Jaco Dames (Algemene Bestuurder van die BBRU) tydens die bekendstelling van die vennootskap.
Foto: Koos Venter

– Intussen het die Carltonbeker toernooi in ’n ongewone stap in die middel van die seisoen ’n nuwe borg gekry.

Die versekeringsreus, Sanlam, het verlede week amptelik aan boord gekom as nuwe titelborg vir die toernooi.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), het beklemtoon dat ’n vennootskap soos dié wat met Sanlam aangegaan is uiters belangrik is om die toernoi se standaard te handhaaf én die missie van die ontwikkeling van talent op hierdie vlak moontlik te maak.

Hy het daarop gewys dat die gaping tussen klubrugby op hierdie vlak en die professionele ligas steeds kleiner word, soos bewys deur die feit dat verskeie spelers uit die Sanlam Carltonliga opgetrek is om deel van die Blou Bulle se Curriebeker veldtog te word. Daarbenewens is nog spelers uit dié liga deur ander provinsiale spanne én deur klubs oorsee gewerf.

Gary van Loggerenberg, Borgskap bestuurder van Sanlam, het gesê die maatskappy wil deur die borgskap betrokke raak by die skepping van geleenthede deur sport in plaaslike gemeenskappe.

Sanlam het onlangs by Boland se provinsiale span betrokke geraak en volgens Van Loggerenberg wil hulle met hul ondersteuning aan klubrugby ook die groei op dié vlak verseker.   

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za  or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button