Atletieklegende van Pretroia internasionaal vereer
Terwyl die Suid-Afrikaanse atletiek legende, Gert Potgieter, steeds internasionaal gereken word as sportadministrateur, het hy ook onlangs in Griekeland ’n besondere toekenning van die Olimpiese Akademie ontvang.
Die 89-jarige Suid-Afrikaanse atletiek legende, Gert Potgieter, is ten spyte van sy ouderdom steeds ’n internasionaal gerekende sportadministrateur.
Daarvan getuig die feit dat hy onlangs deur die Internasionale Olimpiese Akademie se Deelnemersvereniging (IOADV) gekies is om op hul wêreldraad te dien vir die termyn 2025-2027. Verteenwoordigers van meer as 100 lande is lid van hierdie vereniging.
Potgieter, wat op sy dag ’n driemalige atletiek-wêreldrekordhouer was en later as Suid-Afrika se Mansatleet van die Twintigste Eeu aangewys is, is boonop vroeër ook deur die IOADV aangewys as hul koördineerder in Suid-Afrika vir die termyn 2023-2027.
Verlede jaar het Potgieter as Olimpiër die Orde vir Voortreflike Diens van die Wêreld Olimpiese Vereniging ontvang, wat hom toelaat om die letters, OLY, agter sy naam te gebruik. OLY is ‘n amptelike post-nominale benaming (soos PhD of MD) wat toegeken word aan atlete wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het. Die letters, wat in 2017 deur die Wêreld Olimpiese Vereniging ingestel is, dui ‘n atleet se toewyding, prestasies en lewenslange verbintenis tot die Olimpiese waardes aan.
Vroeër vanjaar is die Olimpiese Vereniging se toekenning aan Potgieter opgevolg deur nog ’n toekenning van die Internasionale Olimpiese Akademie (IOA), wat deur dié organisasie se dekaan, Kostas Georgiadis, persoonlik in Olimpia, Griekeland, aan die atletieklegende oorhandig is. Die toekenning is ’n beeld in die vorm van ’n wit duif (simbool vir vrede en skoonheid), wat deel uitmaak van die simboliek van antieke Griekeland en die Olimpiese Spele.
Hierdie toekennings is aan Potgieter gemaak veral uit erkenning vir die bydrae van sy nie-winsgewende maatskappy, Altus Sport, se projekte in ontwikkelende gemeenskappe, waar die Olimpiese waardes deur middel van opvoedkundige programme uitgeleef en promoveer word.
Altus Sport, onder leiding van sy huidige Uitvoerende Direkteur, Liana Laubscher, werk tans saam met die Gautengse Department van Onderwys. Met die hulp van borge word klubs by aangewese skole gestig. Een van die belangrike voorwaardes vir die vestiging van hierdie klubs is dat Olimpiese waardes soos verantwoordelikheid, respek, vriendskap en eerlikheid gevestig moet word, terwyl uitnemendheid nagestreef en leierskap gekweek moet word by hierdie skole.
Volgens Potgieter is hierdie inisiatief ’n deurbraak in Afrika, wat deur die Gautengse Department van Onderwys verwelkom is as ’n verlengstuk van hul kurrikulum.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.