Local sportSport

Koning en koningin van klubtennis in Pretoria gekroon by unieke toernooi

Byna 30 tennisklubs onder die vaandel van die Tshwane Tennisfederasie het saamgewerk om die afgelope naweek se "King and Queen of Clubs" enkelspel toernooi moontlik te maak, waartydens die beste klubspelers in Pretoria meegeding het om as die stad se tennis-adel gekroon te word.

Terwyl nuwe raket-sporte deesdae baie aandag trek met groot toernooie, het klubtennis administrateurs in Pretoria die afgelope tyd met vars inisiatiewe vorendag gekom om gesoute klubspelers weer op klubvlak bymekaar te bring.

Ná die sukses van die Waverley tennisklub se inter-klub toernooi vir gemengde dubbelspel pare in April vanjaar het die hooforganiseerder van daardie toernooi, Johan Engelbrecht, en klubtennis administrateurs van 26 klubs onder die vaandel van die Tshwane Tennisfederasie koppe bymekaar gesit om ook vir enkelspel spelers ’n unieke toernooi aan te bied.

Die idee was om uiteindelik die room van klubspelers uit al die deelnemende klubs by een toernooi betrokke te kry, waarna die wenners van die mans en dames enkelspel kompetisies dan amptelik as die “Koning” en “Koningin” van klubtennis in Pretoria gekroon kan word. Só het die “King and Queen of Clubs” toernooi, wat die afgelope naweek by die Lynnwood Tennisklub afgehandel is, ’n realiteit geword.

Ryan Brookshaw van die Rif tennisklub (links) en Kaylin de Beer van die Koedoepark tennisklub het in die mans eindstryd vir die titel as Pretoria se “King of Clubs” meegeding en De Beer het as wenner uit die stryd getree.
Foto: Verskaf

Uiteindelik het 20 mans en 10 dames uit 21 Tshwane Tennisfederasie klubs ingeskryf vir die toernooi. Die spelers se ouderdomme het gewisel van 16 tot 60 jaar. Verskeie borge het puik pryse en verwelkomingspakkies verskaf. Ander borge het weer gesorg dat die toeskouers se innerlike versterk kon word met stalletjies vir eet- en drinkgoed. Klubs is aangemoedig om soveel as moontlik van hul lede te stuur om hul spelers te kom ondersteun.

Soos by Waverley se gemengde dubbelspel toernooi, was daar weer pret-oomblike en pryse is toegeken vir die beste en slegste houe van die dag, terwyl die luidrugtigste ondersteuner ’n houer met nuwe tennisballe van een van die borge ontvang het.

Teen 08:00 Saterdag oggend het die aksie begin om deur middel van die gewilde “Fast-five” formaat die uitspeelrondtes af te handel, waarna die top agt mans deurgedring het na die kwarteindrondte in hul kompetisie, terwyl die top vier dames vir halfeindstryde in hul afdeling gekwalifiseer het.

Die “Queen of Clubs” kampioen, Megan Basson van Doringkloof tennisklub (links) en haar teenstander in die vroue-eindstryd, Laetitia Lourens van Wierdapark Tennisklub.
Foto: Verskaf

Die tenniswedstryde was van die hoogste gehalte en is in goeie gees gespeel. In die mans afdeling het Ryan Brookshaw van Rif Tennisklub en Kaylin de Beer van Koedoepark Tennisklub mekaar in die eindstryd aangedurf, met De Beer wat uiteindelik die wedstryd met 5-2 gewen het. Hy is dus as “King of Clubs” gekroon.

In die dames afdeling het twee deelnemers van Centurion, Megan Basson van Doringkloof Tennisklub en Laetitia Lourens van Wierdapark Tennisklub, deurgedring na die eindstryd. Basson is as “Queen of Clubs” gekroon, nadat sy Lourens met 5-2 geklop het.

Volgens Engelbrecht word beplan om hierdie toernooi ’n jaarlikse instelling te maak.

“Dis iets waarna spelers kan uitsien as ’n ekstra aansporing wanneer hulle as kampioen van hul onderskeie klubs gekroon word. Hoewel die Lynnwood klub hierdie jaar die voorreg gehad het om dit aan te bied, sal die tuiste van die toernooi jaarliks roteer tussen verskillende klubs,’ het Engelbrecht verduidelik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button