Boere-Ier CJ Stander is gasspreker by Bloubul Trust se rugbyfees
Gaste wat vanjaar se rugbyfees van die Blou Bulle Rugbytrust bywoon kan nie net verskeie rugby legendes ontmoet nie, maar ook kom luister na ’n toespraak deur die gasspreker van die dag, die oud Bloubul losvoorspeler en Ierse toersrugby legende, CJ Stander.
Dis weer tyd vir die Blou Bulle Rugbytrust (BBRT) se jaarlikse rugbyfees, wat vanjaar vir die 29ste keer aangebied sal word.
Hierdie fees, word gewoonlik aangebied in dieselfde week as ’n toetswedstryd op Loftus Versfeld, maar vanjaar sal dit saamval met die Bulls se wedstryd teen die All Blacks, wat tydens hul ‘Greatest Rivalry’ toer vir die eerste keer sedert 1996 weer teen provinsiale spanne sal speel.
Die fees begin om 12:00 op Vrydag 14 Augustus en belangstellendes kan individuele kaartjies koop of tafels vir 10 gaste bespreek.
Vanjaar se gasspreker is die oud Bloubul losvoorspeler, CJ Stander, wat later 51 toetse vir Ierland en 156 wedstryde vir die klubspan Munster gespeel het.
Tradisioneel word hierdie fees gekenmerk deur die geleentheid wat gaste kry om skouer te skuur met Bloubul en Springbok legendes. Bekende name wat vanjaar reeds hul teenwoordigheid bevestig het is Mouner van Heerden, Wynand Claassen, Louis Muller, Danie Gerber, Adri Geldenhuys, Hempies du Toit, Carel du Plessis, Rob Louw, asook verskeie spelers wat deel was van die Noord-Transvaal span wat in 1976 teen die All Blacks gespeel het. Onder hulle tel manne soos Thys Lourens, Daan du Plessis, André Lotter, LM Rossouw, Pierre van Zyl, Joos le Roux en Chralie Middelton.
Ondersteuners besef nie altyd dat hul helde van ouds in hul later jare soms ook deur moeilike tye gaan nie. Die BBRT is in 1998 uitsluitlik gestig om oud Bloubul rugbyspelers in nood te kan bystaan met uitgawes soos mediese kostes en selfs begrafnisuitgawes.
Die stigters van die trust was rugbylegendes soos Dr. Louis Luyt, Piet Uys en Ruben Kruger (aldrie reeds oorlede), asook Frik du Preez, Oeloff de Meyer, Uli Schmidt en die bekende sakeman Hein Raath, wat self diep spore in rugby- en krieketkringe in Pretoria getrap het.
Later het rugbyhelde soos Adolf Malan, Willie Kahts, Piet Kruger en Andrew Williamson ook op die bestuur van die trust gedien. Vandag bestaan die trustees uit Raath (voorsitter), Kahts, Williamson, De Meyer, Kruger, Eugene Hare, Barend van Graan, die krieket legende Alan Jordaan en die bekende advokaat Jaap Cilliers. Du Preez is steeds die beskermheer van die trust.
Die BBRT word verantwoordelik en professioneel bestuur en is hoofsaalik van skenkings en fondsinsameling-projekte afhanklik. Projekte sluit in ’n jaarlikse gholfdag, ’n jaarlikse rugbyfees en die jaarlikse BBRT Korporatiewe Dinee.
Volgens Raath is verskeie spelers al in die verlede bygestaan met hulp, terwyl die vraag steeds die aanbod oorskry. Uitbetalings word vertroulik hanteer, terwyl daar ’n proses bestaan waardeur goedkeuring daarvan deur ’n meerderheid van twee derdes van die trustees moet geskied.
Navrae/bespreking vir die rugbyfees kan gedoen word by Adri Bouwer, selnommer 078-820-2713 of epos bluebullrtoffice@gmail.com of Ronel Walters by selnommer 066-092-9135 of bbrtmarketing@gmail.com .
– Belangstellendes kan intussen ook navraag doen oor die jaarlikse Bloubul Trust Korporatiewe Dinee, wat vanjaar op 22 Oktober sal plaasvind. Meer inligting sal later bekengemaak word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
