Local sportSport

Dis Naka Bulle teen Tuks in Carltonbeker eindstryd

Die Naka Bulle rugbyklub sal oor twee weke hul vierde agtereenvolgende Carltonbeker titel jag, terwyl Tuks hul derde trofee van 2026 en hul eerste Carltonbeker titel sedert 2019 wil inpalm, nadat dié twee spanne die afgelope naweek na die eindstryd van die toernooi deurgrdring het.

Die huidige nasionale Gold Cup klubrugby kampioen en verdedigende Carltonbekerkampioen, Naka Bulle, pak die heersende Varsitybeker kampioen, Tuks, op 5 September in die eindstryd van vanjaar se Carltonbeker toernooi.

Dié twee klubs, wat dus albei tans nasionale klubtitels hou, het die afgelope naweek na die Carltonbeker eindstryd deurgedring toe hulle onderskeidelik met Harlequins en Centurion afgereken het in die halfeindstryde.

– Nadat Centurion twee weke gelede in hul laaste ligabepaling met Tuks op hul tuisveld in die suide van Pretoria afgereken het, moes die twee spanne op dieselfde veld in die halfeindstryd ontmoet.

Hoewel Tuks tradisioneel sukkel om Centurion op hul tuisveld te klop, het die studente die afgelope naweek die bordjies verhang en die halfeindstryd met 47-35 gewen.

Tuks het Saterdag na hul oorspronklike rugby-DNA teruggekeer en van die afskop af die tempo opgejaag deur eenvoudig van oral op die veld ’n aanvallende benadering te volg. Min spanne sal Tuks in toom kan hou as hulle die dag in só ’n bui is. Met hul skakelpaar wat die bal puik versprei en heelagter, Hopewell Ntshangase, wat verwoestend was uit die agterste vesting elke keer as hy by die aksie betrokke geraak het, kon Centurion aanvanklik nie al die gate toestop nie en teen rustyd het die studente reeds vyf keer gaan druk om met 35-14 voor te loop.

Centurion het egter in die tweede helfte baie karakter gewys en wou eenvoudig net nie gaan lê nie. Hulle het daarin geslaag om die spel effens stadiger te maak en met goeie verdediging die studente se aanvallende benadering beter te smoor.  Uiteindelik het hulle in daardie tweede skof drie keer gaan druk teen Tuks se twee drieë, maar die tuisspan kon net nie genoeg momentum bou om meer gereeld deur te breek nie.

– In Meyerstraat in die Moot het Naka Bulle gewys dat hulle op die regte tyd hul ‘mojo’ teruggevind het, nadat hulle vroeër vanjaar effens wisselvalig was gemeet aan hul eie standaarde. Marinus van der Watt se manne kon Harlequins vir die tweede keer in twee weke met ’n groot pakslae (75-35) huistoe stuur.

Met die Bezuidenhout broers, Wiehan en Cassie, saam met Christoff Craill is die voorry het die tuisspan baie gou die Blokkiestruie onder druk gehad in die vaste skrums, terwyl hul pak voorspelers die oorheersing voortgesit het met verwoestende dryfbewegings.

Naka Bulle het vroeg reeds afgeskop met ’n kragdrie vanaf ’n dryfbeweging, maar kort daarna gewys dat hulle ook punte kan aanteken deur die bal lug te gee en wyd te speel.

Daarna het die drieë met reëlmaat gevolg, terwyl Harlequins ’n paar minute voor rustyd eers hul rekening kon open met ’n drie vanaf ’n dryfbeweging ná ’n lynstaan in die rooi gebied.

Toe Crail kort daarna sy span se sesde drie druk, het die rustyd telling op 40-7 in die tuisspan se guns gestaan en Naka Bulle se bestuur kon maar hul logistieke planne vir die aanbieding van die eindstryd begin bespreek.

Quins het na rustyd weer vanaf ’n dryfbeweging punte aangeteken, maar minute later het Crail dieselfde gedoen vir Naka Bulle. Toe regtervleuel OJ Osunkwo direk na die volgende afskop weer gaan druk ná swak verdediging deur die besoekers, was die tuisspan se vyftigtal op die telbord.

Met die manne van die Moot wat waarskynlik hul voet van die pedaal begin afhaal het, kon Quins drie keer gaan druk om hul telling bietjie beter te laat lyk, maar Naka Bulle se elfde drie kort voor die einde het die 75-tal verseker.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button