Geen gebrek aan aksie by unieke bokstoernooi
Die vonke het behoorlik in die bokskryt gespat toe die House of Chrome gimnasium se “Fight Night” bokstoernooi met 25 aksiebelaaide gevegte die afgelope naweek by die Pebble Rock Golf Club & Country Estate buite Pretoria afgehandel is.
Boksgeskiedenis is die afgelope naweek by die Pebble Rock Golf Club & Country Estate naby die Roodeplaat dam in die noord-ooste van Pretoria gemaak toe die House of Chrome gimnasium se unieke “Fight Night” bokstoernooi aksie in die kryt opgelewer het wat nog nooit tevore in dié stad gesien is nie.
By dié toernooi, wat op sy beste as ’n mengsel van amateurboks en “White-collar Boxing” beskryf kan word, was deelnemers uit verskillende kategorieë in aksie. Oud en jonk – van laerskool ouderdom tot meesters (35+) – het kans gekry om hul boksvernuf te wys.
Daar was amateur boksers van verskillende ouderdomme en gewigsafdelings, nuwelinge wat hul kans aangegryp het om die handskoene aan te trek en deur die toue te klim en atlete uit ander gevegskodes wat kom boks het. In die hoofgeveg was selfs ’n voormalige professionele bokser teen wie een van die land se opwindendeste jong amateurs homself moes bewys. Twee vrouegevegte was ook deel van die aksie.
Die toernooi het ’n hele dag se boks-aksie opgelewer met 25 gevegte wat afgehandel is. Kaartjies is meer as ’n week vooraf reeds uitverkoop en toeskouers wat die klubhuis se saal by die Pebble Rock Golf Club & Country Estate volgepak het, het behoorlik waarde vir hul geld gekry.










Foto: House of Chrome

Foto: House of Chrome

Foto: House of Chrome

Foto: House of Chrome

Foto: House of Chrome

Foto: House of Chrome

In die kryt het die volle spektrum van aksie en drama afgespeel. Daar was uitklophoue, tegniese uitklophoue en punte-oorwinnings, terwyl die toernooi op ’n hoogtepunt afgesluit is met ’n skouspelagtige uitklophou in die hoofgeveg.
Boksers van verskeie amateurklubs in Pretoria was in aksie, terwyl ander deelnemers van so ver as Naboomspruit in Limpopo gereis het om deel van die skouspel te wees. Twee vroue-gevegte en ’n vertoongeveg was ook deel van die spyskaart.
Die een klub wat uitgestaan het tydens die toernooi, is Backhouse Boxing klub van Montana. Dié klub het nie net met die meeste deelnemers gespog nie, maar die kwaliteit van hul boksers het gesorg dat die toeskouers behoorlik vermaak is.

Foto: A Lens & Co/Anchen Brits
















Foto: Koos Venter




Foto: A Lens & Co/Anchen Brits
Backhouse Boxing gaan van krag tot krag en het vroeër vanjaar weer momentum gekry met hul skuif na hul nuwe ginmasium in die Montana sentrum. Die klub se groei word ondersteun deur kwaliteit afrigting, wat duidelik na vore gekom het in hul boksers se prestasies tydens Saterdag se aksie. Die vordering van opkomende sterre van dié klub, soos Iysis Rossouw en Jonathan Swart is opmerklik.
Swart, wat waarskynlik tans die klub se grootste ster is, het in die hoofgeveg van die toernooi ’n kliniese vertoning gelewer teen die voormalige professionele bokser, Joel Kadima. Hy het Kadima in die eerste rondte met ’n puik kombinasie van houe planke toe gestuur en dié boorling van die Demokratiese Republiek van die Kongo moes na sy hoek gehelp word nadat hy uitgetel is.
Twee gewese wêreldkampioene het die toernooi bygewoon. Brian Mitchell, Suid-Afrikaanse bokslegende en voormalige WBA en IBF super veergewig wêreldkampioen, het boonop ’n paar getekende handskoene uit sy boksdae geskenk wat tydens die veiling by die toernooi onder die hamer kon kom.
Pretoria se eie Sebastiaan Rothmann, ook ’n voormalige dubbel-wêreldkampioen, het as beoordelaar opgetree tydens sommige van die gevegte. Dié gewese IBO en WBU junior swaargewig (cruiserweight) kampioen, se boksgimnasium, SEB’s Elite Boxing Gym, het ook boksers vir die toernooi ingeskryf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.