Bloed is lewe, glo hy

Gawie van der Merwe van Môregloed het onlangs sy 256ste punt bloed geskenk.

Bloed is lewe en omdat die 67-jarige Gawie van der Merwe van Môregloed die waarde daarvan besef het, het hy ’n punt daarvan gemaak om elke twee maande sy deel vir die mensdom te doen.

Van der Merwe het in 1967 sy heel eerste punt bloed geskenk en 46 jaar later doen hy dit nog steeds.

Hy het onlangs vir die 256ste keer gaan bloed skenk en alhoewel hy die hoeveelheid kere wat hy gaan skenk bietjie gaan afskaal weens sy ouderdom, gaan hy beslis nie ophou skenk nie. Sy doelwit is om ten minste 275 eenhede te skenk, of selfs 300.

“Die gedagte dat die punt bloed wat jy skenk iemand anders se lewe moontlik kan red, is op sigself ’n groot beloning. Die een punt bloed wat ’n mens skenk kan vir vier mense gebruik word. Dit is wonderlik om op dié manier jou medemens te kan help,” het Van der Merwe gesê.

Weens sy betrokkenheid het Van der Merwe reeds ses medaljes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) ontvang om hom te bedank. Hy moedig alle inwoners aan, vir wie dit moontlik is, om gereeld bloed te skenk omdat dit nie net iemand anders se lewe kan red nie, maar ook vir jou eie liggaam gesond is.

Willem van der Merwe, woordvoerder van die SANBD het gesê dat dit noodsaaklik is vir mense om bloed te skenk, maar dat slegs 1% van die gemeenskap gereelde skenkers is.

Hy moedig inwoners aan om bloed by een van hul takke by die Hatfield Plaza te gaan skenk.

“Skenk bloed en red ’n lewe,” het hy gesê.

Navrae: SANBD tolvrye nommer by 0800-11-90-31.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button