Digter voltooi boek, kleintydse droom verwesenlik
'n Vrou van Pretoria-Noord het haar kleintydse droom om 'n digter te word onlangs verwesenlik toe sy haar eerste digbundel voltooi het.
’n Digter en skrywer van Pretoria-Noord wat haar eerste digbundel voltooi het, het vertel oor haar inspirasies, haar droom om ’n digbundel uit te gee en hoe haar gedigte spesiaal voorgelees gaan word vir dowes.
Driekie Grobler het gesê dat sy al van kleintyd af begin gedigte skryf het vir Hartsnare, haar eerste digbundel.
“Ek het al op skool begin versies skryf. Hierdie bundel is dus ‘n kleintyd droom wat nou werklikheid geword het.”
Grobler het vertel hoe sy verlede jaar haar voltydse werk bedank het om haar eie besigheid op die been te bring en sodoende ook meer tyd te bestee aan haar skryfwerk.
“Ek het besef die tyd vlieg verby en as ek nog my droom wil verwesenlik om ’n digbundel en boek te skryf, ek drasties daaraan sal moet begin werk.”
Grobler se bundel is in kategorieë verdeel wat handel oor haar gesin, oor mense wat sy in haar leeftyd waargeneem het, die natuur, seisoene, lewe en emosies en godsienstige bemoediging.
“My gedigte kom uit die hart uit. Dit is geskryf deur my ervaringe, waarnemings en meegevoel met mense. Elke gedig het ‘n spesifieke boodskap.”
Haar digbundel se bekendstelling vind plaas op Vrydagaand 29 November in die NG Kerk, Onderstepoort se kerksaal en haar digbundel gaan tydens die bekendstelling vir dowes voorgelees word.
Grobler, wie se dogter doof is, het vertel dat sy deur die jare waarin sy betrokke was by verskeie organisasies en skole vir dowes, besef het dat dowes nie vertroud is met die digkuns nie.
“As gevolg van die beperkte leerbronne wat dowes het, weet hulle nie van gedigte nie omdat hulle dit nie op skool leer nie. ’n Gebaretolk sal by die boekbekendstelling my gedigte vir dowes voorlees.”
