Transoranje se grootste Kersmark ooit
Die Transoranje Kersmark is bekend vir die hoë gehalte en groot verskeidenheid items wat aangebied word. Hierdie is na raming een van die grootste Kersmarkte wat ‘n groot verskeidenheid van handgemaakte items, wat deur die Transoranje leerders self gemaak word, te koop aanbied.
Die tyd is naby vir die Transoranje Skool vir Dowes Kersmark wat vanjaar vir die 17de jaar aan die gemeenskap gebied word vanaf 22 November tot 1 Desember by die Tshwane Events Centre (Pretoria Skougronde) Saal L.
Transoranje Skool vir die Dowes is geleë in Pretoria-Wes met 207 leerlinge.
Volgens Alta Koekemoer, die ontwikkelingsbestuurder, is bykans 300 uitstallers gekeur en die Kersmark beloof om alle voriges te oortref.
“Die Kersmark is bekend vir die hoë gehalte en groot verskeidenheid items wat aangebied word. Hierdie is na raming een van die grootste kersmarkte in Gauteng, wat ’n groot verskeidenheid van handgemaakte items, onder andere gestoffeerde voetstoeltjies en sakke wat deur die Transoranje leerlinge self gemaak word, te koop aanbied.”
Die kersmark se beskermvrou is die aktrise, Hanna Grobler, wat die mark gereeld besoek.
“Kaartfasiliteite en koopverenigings is beskikbaar, gratis ingang asook veilige parkering vir voertuie by die Kerkstraat ingang P8,” het Koekemoer gesê. “Die teetuin is een van ons hoogtepunte waar ligte etes, gebak en verversings te koop aangebied word. Dit is ook gerieflik binne dieselfde saal geleë.”
Vir die werkendes se gerief is die Kersmark oop na-werksure: op weeksdae van 09:00 tot 20:00, op Saterdae van 09:00 tot 16:00 en op Sondae van 09:00 tot 15:00.
Transoranje Kersmark, is die skool se grootste geldinsamelingsprojek wat aanvullend tot die staatsubsidie in al die behoeftes moet voorsien en die publiek se ondersteuning word gevra.
“Ons het op Saterdag 23 November ’n 2.5km funwalk ten bate van Save the Rhino, wat aangebied word deur die Radical-groep. Dit sal op die terrein van die Tshwane Events Centre plaasvind,” het Koekemoer bygevoeg.
Registrasies vir dié pretloop is by die kersmark, saal L, om 09:00 en kos slegs R20 per persoon.
“Ons bied Saterdae oggende tussen 09:00 – 11:00 ook ’n heerlike ontbyt met koffie aan vir slegs R20 per person.”
Verskeie kunstenaars gaan heeltemal gratis by die kersmark optree gedurende die naweke en op weeksaande.
Vir enige navrae kan die ontwikkelingsbestuurder, Alta Koekemoer, of Amanda Fourie, die kersmarkkomiteevoorsitster gekontak word by 012-386 6072-5; of stuur ’n e-pos aan transoranje3@gmail.com.
Borge, donasies of skenkings is ook altyd welkom.
Besoek die webtuiste by www.transoranje.webs.com.
