Ashope gesluit en kontrakteurs in wanhoop
kontraktkeurs maak nou hulle eie stortterreine
Chaos op die ashoop; of meer korrek, kontrakteurs sit in sak en as met hul vragte wat hulle nêrens kan aflaai nie omdat van die tien as- of rommelhope wat die Tshwane-metro Pretoria gehad het, net twee nog oop is om vragte af te laai.
Andre Brits, ’n boomsloper van Centurion sê dat kontrakteurs nou weier om in die suide van Pretoria te werk omdat die rommel stortterreine, die een by Atteridgeville en die ander in Garstfontein op die Delmaspad begin vanjaar gesluit is.
“Kontrakteurs stort nou hul weggooivragte onwettig op enige oop gebied. Na wat ons verneem het die rommelterrein op die Delmaspad nog ’n vier jaar leeftyd gehad. Die munisipaliteit skiet hulself in die voet met die toemaak van die vuilishope. Slegs twee rommel stortterreine, een by Pretoria-Noord naby Onderstepoort en Hatherley, die een op die N4 naby Mamelodi is nog oop. Met die verhoogde brandstofprys en nou die e-tolstelsel is kontrakteurs genoodsaak om van een kant van die stad na die ander kant te ry om vuilis weg te gooi. Dis kontra-produktief in terme van brandstof en tyd en sulke vragte word nou sommer oral en onwettig op enige oop stuk veld afgelaai,” het Brits gesê.
Die probleem van bourommel-storting is ook nie net beperk tot kontrakteurs nie. Talle eienaar-bouers het dieselfde probleem. By Lyttelton Manor en Rooihuiskraal en Laudium is daar wel aanlegte waar huiseienaars tuinafval soos blare, gras en takke kan aflaai. Die aanlegte is egter toe vir kontrakteurs of eienaar-bouers wat bourommel wil aflaai.
Brits het gesê dat die probleem vererger word omdat sulke rommel wat in die veld afgelaai word, weer deur die munisipaliteit opgelaai moet word en dit teen koste van die belastingbetaler.
“’n Mens moet net gaan kyk hoe die probleem toegeneem het. Agter die krieketstadion by Wesstraat in Centurion kan jy duidelik van die hoofpad die berge rommel sien wat reeds daar afgelaai is,” het hy gesê.
Vir gewone tuinafval is daar tien stortingsterreine in Pretoria. Hulle is by Dorandia, Magalieskruin, Menlopark, Mountainview, Phillip Nel Park, Watloo, Eersterust, Centurion, Rooihuiskraal en Cladius.
?
