Inwoners lewe in vrees oor sluipslapers
Man vrees vir sy gesin weens misdaad in Wierdapark.
‘n Man van Centurion is te bang om werk toe te gaan omdat hy vermoed dat iemand sy huis dophou. Stanley Mngadi het Woensdag-oggend verlof geneem van die werk omdat hy vir die veiligheid van sy huis en gesin vrees.
Mngadi was in die afgelope twee jaar verskeie kere die teiken van misdadigers. Vrydagaand is daar in sy voertuig by sy huis ingebreek en sy skootrekenaar is gesteel. Mngadi het ook twee uur die Saterdag-oggend sy buurman gehelp om kabeldiewe naby sy huis vas te trek.
“My vrou en twee seuns lewe in vrees. Hulle is elke dag te bang om huis toe te kom,” het hy gesê. “My een seun was tydens een van die inbrake by ons huis ‘n ooggetuie.”
Mngadi het gesê hy vermoed dat die groep sluipslapers naby Mall@Reds winkelsentrum tot die verhoging in die kriminele aktiwiteite bydra.
“Dit is egter nie net hulle nie. Daar is moontlik ‘n sindikaat wat in hierdie omgewing doenig is.”
‘n Gebreekte gat in die muur van ‘n verlate eiendom op die hoek van Rooihuiskraalweg en Hendrik Verwoerdrylaan in Wierdapark, het ‘n woning en skuiling vir sluipslapers en misdadigers geword.
Die ingang van die eiendom is in Lloysweg en op die perseel is daar reeds 15 hawelose mense gevind. Dié haweloses se tente is opgerig en hulle maak gebruik van die plante as hul toiletgeriewe.
Volgens lede van die gemeenskapspolisie, hardloop kriminele gereeld in dié erf in. “As hulle oor die muur is, is hulle weg. Ons kan nie sien waar hulle wegkruip of waar hulle die gesteelde goedere wegsteek nie,” het André Vorster gesê.
Op verskeie geleenthede het raadslid Marika Kruger-Muller verskillende afdelings van Tshwane-metro genader om dié situasie by die eiendom op te los.
Sy het aangevra dat die eienaar van die eiendom in kennis gestel word sodat die plek opgeruim kan word.
Indien die eienaar nie hieraan voldoen nie, moet die munisipaliteit dit op hulself neem om die gebied skoon te maak en die rekening teen die eienaar vereffen.
“Die sluipslapers moet ook verwyder word en sodat polisiëring toegepas kan word in ‘n poging om die misdaad te verminder,” het Kruger-Muller gesê.
