Polisie soek sewe rowers

Polisie soek sewe rowers wat ’n bejaarde vrou in die been geskiet het en twee ander slagoffers met ’n pistool op Donderdag in Villieria geslaan het.

Die Villieria-polisie soek na sewe verdagtes wat Spar en Tops in 33ste Laan op Donderdag omstreeks 11:00 geroof het.

Adjudant-offisier Marinda Austin het gesê die sewe mans was in twee groepe opgedeel en albei het die winkels beroof. Hulle het met bykans R20 000 weggekom, hoewel die volle bedrag nog bevestig moet word.

Volgens Ancelize van der Kooi, ’n ooggetuie en lid van die Kilnerparksekuriteit, het die rowers ’n vroulike werker by Tops se hande en voete met kabels vasgebind terwyl hulle die roof uitgevoer het.

Austin het bevestig dat die rowers drank, sigarette en geld uit die drankwinkel gesteel het.

“Ons het na Spar gegaan en opgemerk die bloed stroom oor die bestuurder se gesig. Die verdagtes het haar glo met die pistool teen die kop geslaan,” het Van der Kooi gesê.

“Daarna het ek na die agterkant van Spar gehardloop waar die rowers ’n 78-jarige vrou in die knie geskiet het. Ek het druk op die wond geplaas tot die ambulansdienste op die toneel gekom het. Die vinnige reaksie van die verskeie rolspelers was verstommend.”

’n Inwoner wat die hele rooftog gesien het, het vinnig die voertuig se registrasienommer op ‘n blou lappie neergeskryf en dit aan Van der Kooi oorhandig om vir die Moot-owerhede te gee.

Frikkie Gous, woordvoerder van LifeMed-ambulansdienste, het gesê nadat hulle die bejaarde vrou op die toneel behandel en gestabiliseer het, het hulle haar na ’n nabygelëe hospitaal geneem.

Die MonAmi Trauma Troops is ook na die toneel ontbied om die werknemers traumabehandeling te gee.

Austin het gesê ’n saak van besigheidsroof is geopen en dat ‘n poging tot moord dalk bygevoeg gaan word. Die polisie is besig om die winkel se beeldopnames te bestudeer vir nog inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button