As biblioteke brand, word die mensdom vernietig
"’n Mens gaan nie net bibiliteek toe om meer oor sy verlede en sy huidige wêreld te leer nie, maar dit is ook ’n sentrum vol potensiaal..."

Deur die eeue is biblioteke nog altyd gesien as bastions van verligting en kennis. Dit is die versamelplek of bewaarplek waar dokumente en boeke gestoor word wat die verhaal van die mens se reis van onkunde na kennis en ontwikkeling vertel, die verhale van die mens se ontwikkeling van barbaar na fyn gekunstelde en beskaafde, demokratiese mens.
In biblioteke kom ’n mens in aanraking met die idees, denke en woorde wat ingrypende veranderinge teweeggebring het in die mens en die aarde se ontwikkeling na beskaafdheid.
’n Mens gaan nie net bibiliteek toe om meer oor sy verlede en sy huidige wêreld te leer nie, maar dit is ook ’n sentrum vol potensiaal, van die onbeperkte moontlikhede wat idees en gedagtes inhou vir die verdere evolusie en die ontwikkeling van die mens en sy gemeenskappe.
Biblioteke speel ook belangrike rolle in gemeenskappe. Biblioteke is plekke waar individue saamkom om te ontdek, in interaksie met mekaar te tree en op verbeeldingsvlugte te gaan. Biblioteke is gemeenskapsbouers, dien as gemeenskapsentrums vir ons diverse bevolking, bewaarplekke van die kunste, dien as universiteite en help om ons jeug toe te rus en te bekragtig vir die toekoms.
Dis om dié rede dat wanneer ‘n bibliteek afbrand of vernietig word, dit vergelyk kan word met die afsterwe van ’n mens, ’n nasie of ‘n hele geslag. Die gevolge van die afbrand van die biblioteek van Alexandrië in die antieke tyd word steeds gevoel vanweë die vernietiging van antieke manuskripte uit die antieke Griekse en Romeinse tydperke.
Byna oral ter wêreld word biblioteke fisiek en finansieel so onderskraag dat hulle kan bybly by die kennis en tegnologiese ontploffings van die afgelope tyd, behalwe in Suid-Arika.
Hier het dit nou mode geword om openbare biblioteke te sien as deel van die onbevoegdheid van munisipaliteite waaronder hulle funksioneer. Daarby het die gier nou posgevat om biblioteke af te brand.
Sedert 2009 is meer as 20 biblioteke in Suid-Afrika afgebrand by betogings oor dienslewering.
In Februarie is twee biblioteke by ’n oproer in Bronkhorstspruit afgebrand. Een hiervan wat totaal vernietig is, was in Kungweni geleë. Die biblioteek is in 1986 gebou en het ’n groot gemeenskap, twee hoërskole en drie laerskole bedien.
Met die vernietiging van die biblioteek, is groot skade aan die geboue, die boeke, oudivisuele materiale, meubels, en ander toerusting aangerig en die skade word tussen R1-m en R3-miljoen geraam. Die skade wat dit egter op intellektuele, geestelike en gemeenskapsvlakke aangerig het, is egter onberekenbaar.
Hierdie vernietiging kom teen die agtergrond van die totale onderbefondsing van openbare biblioteke oor die algemeen. Blykbaar is R2-biljoen begroot vir die bou en onderhoud van openbare biblioteke, terwyl die departement van basiese onderwys berig het dat hulle R16,5-biljoen benodig om veral biblioteke aan skole te voorsien.
Volgens ’n onlangse studie is bevind dat daar meer as 10 000 skole in SA is wat sonder enige biblioteekgeriewe moet klaarkom. Die gebrek om ’n leeskultuur onder kinders te vestig is dus geen wonder nie.
