Bejaarde verwurg en aangerand
Bejaarde Roseville vrou verwurg en aangerand nadat twee verdagtes haar huis op Maandagmiddag geplunder het.
’n Bejaarde vrou van Roseville het byna met haar lewe geboet nadat twee verdagtes haar Maandagmiddag omstreeks 12:00 verwurg en aangerand het.
Gelukkig vir die 67-jarige Nelie Buurman het Marita Vermaak, eienaar van Crisis-on-Call, haar noodkreet gehoor en dadelik hulp verleen. Crisis-on-Call is direk langs Buurman se huis geleë.
Nelie was in haar agterplaas besig toe sy agterkom dat daar iemand in haar huis doenig is. Sy het na die huis geloop en ’n beweging gehoor. Voordat sy kon weghardloop het die twee verdagtes haar oë toegedruk, gewurg en geslaan.
“Sy het daarin geslaag om hulp te roep en gelukkig het Vermaak dit gehoor. Sy het na my ma gehardloop en die polisie gebel. Die verdagtes het gevlug sonder om enige ernstige skade aan te rig,” het ’n dankbare Albert Buurman, die seun, gesê.
Nelie is na die Eugene Marais-hospitaal gehaas en is dieselfde dag ontslaan. Sy het verskeie kneusplekke opgedoen, maar gelukkig geen ernstige beserings nie.
Volgens Buurman het die twee verdagtes ’n kussingsloop vol waardevolle juweliersware gesteel. “Daar was baie sentimentele juweliersware soos my ma se trouring en ook ’n goue armband wat meer as 40 jaar oud is.”
Hy het gesê dié inbraak is die derde voorval die afgelope drie jaar.
Volgens Sandra du Plessis, woordvoerder van die Wonderboompoort-gemeenskapspolisiëringsforum, het die verdagtes toegang tot die perseel bekom deur op die watermeter te staan en ’n gedeelte van die palisadeheining afgebreek en oorgeklim.
