Afgetrede polisie-majoor vier 100ste verjaarsdag
Dié afgetrede majoor het sy 100ste verjaarsdag saam met familie en vriende gevier.
‘n Afgetrede majoor van die SAPS wat onlangs sy 100ste verjaardag saam met familie en vriende gevier het, bak volgens sy kinders nog gereeld koek en beskuit om besig te bly.
Majoor Hendrikz soos wat hy aan sy geliefdes en vriende bekend staan, oftewel Michael Daniel Hendrikz, is gebore in Kimberley, getoë in Johannesburg en woon deesdae in ‘n aftreeoord in die ooste van Pretoria.
Hendrikz het sy groot dag saam met familie en vriende gevier in die saal by die aftreeoord, waar sy skoonseun Ian Howard bietjie uitgewei het oor Hendrikz se lewe en almal vir hom gesing het.
Howard het onder andere genoem dat Hendrikz ook baie bekend is vir sy talent met ‘n trompet. Volgens hom het het Hendrikz in vroeër jare by verskeie huwelike en begrafnisse opgetree.
“Al onthou hy deesdae meestal sy Tweede Wêreldoorlog-dae, voel hy dat hy tot so op 50-jarige ouderdom ‘n vol lewe gehad het. Sy laaste 20 jaar, veral sonder sy vrou, was baie eensaam gewees,” het Koos Pretorius, Hendrikz se ander skoonseun gesê.
Hendrikz en sy vrou, Laura, was vir meer as 50 jaar getroud gewees toe sy oorlede is.
Hy was vir meer as 50 jaar, tot op die rype ouderdom van 80, in diens van die polisie en sê dat hy ‘n baie gelukkig daar was.
Chereen Pretorius, een van Hendrikz se twee kleindogters, het aan Rekord gesê dat alhoewel Hendrikz tans by die aftreeoord woon, die familie gereeld by hom kuier.
“Ons familie is baie gesinsgeörienteerd,” het sy gesê.
Hendrikz se twee dogters, Memory Pretorius en Avril Howard, hul gesinne en ‘n paar vriende by die aftreeoord het Hendrikz se spesiale dag saam met hom gevier.
