Vermeende ontvoering dra glo meriete
Daar is na bewering leidrade wat organisasies volg om die 13-jarige dogter weer veilig by haar huis te kry.

Ten spyte dat niemand hul 13-jarige dogtertjie teen Sondagoggend by die polisie aangemeld het nie, is organisasies besig om elke leidraad op te tel om die kind veilig huis toe te bring.
Die woordvoerder van TacSAR, ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gerig is om vermiste mense te vind, het Sondag aan Rekord gesê daar is vir hulle beslis rede om die gerugte van die ontvoering te glo.
“Weens die sensitiwiteit van die saak kan ons egter geen verdere inligting verskaf nie,” het die woordvoerder gesê.
Nadat die gemeenskap vir byna twee dae na ’n blonde 13-jarige meisie gesoek het, het die polisie bevestig dat daar teen Sondagoggend nog geen saak van ’n vermiste kind aangemeld is nie.
Gerugte oor drie mans in ’n silwer Astra wat na bewering ’n blonde 13-jarige ontvoer het, het Vrydagaand oor die GPF se radio’s gekom. Die insident het glo omstreeks 19:00 in Pretoria Tuine plaasgevind.
Sedertien het die nuus soos ’n veldbrand regoor Pretoria versprei. Inwoners van Pretoria sowel as Centurion het hul bekommernis oor die dogter se veiligheid op sosiale netwerke uitgespreek, maar weens die tekort aan hierdie inligting het die gemeenskap skepties begin word.
