Moet nie te vinnig oordeel nie
Voordat jy oordeel, loop eers ’n myl in iemand anders se skoene.
Inwoners van die Silwerkroon-aftreeoord het die gesegde, ‘loop ’n dag in iemand anders se skoene’, baie ernstig opgneem toe hulle onlangs as ‘boemelaars vir ’n dag’ geleef het.
Die bejaardes van dié tehuis, geleë in Eloffsdal, wou weet hoe dit is in die wêreld van ’n boemelaar.
“Boemelaars is ’n algemene gesig oral in die land. Ons het ’n ‘boemelaarsoggend’ gehou, nie om die gek te skeer nie, maar eerder om vir ’n rukkie te voel hoe dit is om in hul skoene te staan,” het Hester Lourens van Silwerkroon-atreeoord, gesê.
Sommige van die inwoners het selfs soos boemelaars aangetrek om te wys dat hierdie mense nie onsigbaar is nie en dat daar mense is wat wel ’n hart van omgee vir hulle het.
Die tafels was met koerantpapier gedek en ’n skoen met ’n blikkie in het as die tafelrangskikkings gedien.
“Elke inwoner het ’n katkop, ook bekend as ’n bunnychow, en watertand nagereg wat in ’n tunablikkie bedien was gekry. Dit was werklik ’n baie aangemane geleentheid,” het Lourens gesê.
Sy het gesê die oggend het elkeen weer opnuut laat besef dat daar groot nood in hul gemeenskap is en dat ’n helpende hand ’n ver pad kan gaan.
