Vullis op inwoner se deurstoep hoop op

Die sluiting van stortingsterreine het nou daartoe gelei dat ’n inwoner se toegangspad in 'n vullishoop omskep is. Die probleem kry min aandag aangesien die pad in die buitewyke van Centurion geleë is.

Ver op ’n afgeleë plek in Centurion, waar mense selde met hul motors ry, hoop boumateriaal en ander rommel al hoe hoër op.

Jan-Adriaan du Plessis woon op ’n plot in die buitewyke van Doringkloof waar vullis langs sy toegangspad ’n onooglike prentjie skep. Die pad is ongeveer 5km van die kruising van Nellmapiusrylaan en die M57 in die rigting van die Rietvei-natuurreservaat.

Du Plessis se familie en bure, tesame met inwoners van die L&J informele nedersetting, is die enigste mense wat die pad gebruik. Maar die afgelope jaar het die publiek besluit dit is die beste plek om hulle rommel te strooi – waarskynlik omdat hulle dink niemand sal hulle uitvang nie.

Die rommel langs die pad strek vir byna twee kilometer. Enige soort rommel word daar gestort, van dooie hoenders, die karkas van beeste tot tuin- en bourommel.

“Ek moet elke dag van my lewe deur die rommelhoop ry. Ek kan nie vriende oornooi of toelaat dat my kinders partytjies hou nie, want die maatjies se ouers sal baie sleg van ons dink. En my vrou kan nie ’n besigheid begin nie omdat kliënte deur die toestand van die plek afgeskrik sal word,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis bly al vir vier jaar op die plot en het gesê dit is veral in die laaste aantal maande wat die rommelstrooiing hand-uit geruk het. Hy en sy gesin het al self probeer om die probleem op te los. Hulle het die gemors uit die pad geskraap of dit in die veld verbrand.

Du Plessis het gesê hy het al dikwels die Tshwane-metro se hulp ingeroep, maar met geen sukses nie.

Raadslid Christa Spoelstra het verlede Donderdag met haar eie oë aanskou hoe die rommel die natuur besoedel. Volgens Spoelstra het die sluiting van verskeie stortingsterreine in Centurion en Pretoria ’n groot aandeel daarin dat onwettige stortings vererger. “Daar is in dié stadium geen oplossing vir die probleem nie,” het Spoelstra gesê, met verwysings na raadsvergaderings waar sy geen antwoorde op haar vrae aangaande die probleem kon kry nie.

Spoelstra het ‘n versoek aan die Tshwane-metro gerig om die rommel by die Du Plessis-woning te kom opruim. Donderdag was spanne besig om in die Zwartkop-woongebied te werk maar weens die staking was daar ’n tekort aan mannekrag om die onwettige stortingsterrein op te ruim.

Onwettige stortings is egter nie net Du Plessis se probleem nie. Regoor Centurion het dit ’n kopseer vir baie inwoners geword, veral na die sluiting van die Rooihuiskraalstortingsterrein.

Die toepassing van regulasies deur die metro-polisie kan ’n verskil maak, het Spoelstra gesê.

Volgens superintendent Isaac Mahamba is die metro-polisie verantwoordelik vir wetstoepassing. “Ons kan wel ’n boete uitreik aan diegene wat op heterdaad betrap word. Verder hanteer ons ontwettinge stortings soos enige ander klagte wat ons ontvang en tree dienooreenkomstig op,” het hy gesê.

Mahamba het gesê die publiek kan die metro-polisie hiermee help deur foto’s van skuldiges te neem. “Bel ons wanneer dit gebeur en neem foto’s van die registrasienommer van die skuldiges se voertuie sodat ons die saak kan opvolg,” het hy bygevoeg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button