Gapende wond ná klipgooi
Weerlose hondjie se kop is met 'n klip oopgekloof.
Na ’n oop wond van 8cm en sewe steke later sterk Meisiekind, 14-jarige worshondkruising, goed by die huis aan.
Dié hond is verlede Vrydag deur ’n booswig met ’n klip gegooi of met ’n kettie geskiet. Dit is tans onduidelik hoe sy dié yslike wond opgedoen het.
”Ek het haar so jammer gekry. Sy is ’n ou hond en moes byna die heeldag met die oop wond loop,” het Corali Wolmarans, eienaar en ’n inwoner van Queenswood, gesê.
Wolmarans het ’n vermoede wie die skuldige is, maar is tans besig om advies by die DBV en ander rolspelers in te win oor hoe om die saak te hanteer.
”Dit is onmenslik om ’n weerlose dier só seer te maak. As die persoon dit aan ’n dier kan doen, kan hy dit ook aan ‘n mens doen,” het sy ontsteld gesê.
Dit het Wolmarans R1 400 uit die sak gejaag om Meisiekind na ‘n veearts te neem. Sy hoop dat die skuldige die mediese onkoste sal dra.
”Dit maak my vreeslik kwaad om te dink mense kan dit aan ’n dier doen. As my honde pla of hulle blaf te veel, kom praat eerder met my daaroor. Dit is nie reg om ’n dier so seer te maak nie,” het sy gesê.
Rick Allan van die Tshwane DBV het gesê om ’n dier met opset te beseer is onwettig en ‘n strafbare oortreding.
”As die persoon in ’n landdroshof skuldig bevind word, kan die persoon tot een jaar tronkstraf of ’n boete van R20 000 gevonnis word. In die streekshof kan die persoon selfs twee jaar tronkstraf of ‘n boete van R200 000 kry,” het Allan gemaan.
Wolmarans het gesê dat Meisiekind tans goed aansterk en dat die dreineringspyp Donderdag uitgehaal sal word.
