Ses gewapende verdagtes slaan toe op Moot-winkelsentrum

Ses verdagtes soek nadat hulle die Mayville Mall-winkelsentrum op Donderdagmiddag geroof het.

Ses gewapende rowers is steeds op vrye voet nadat hulle Donderdagmiddag op die Mayville Mall-winkelsentrum toegeslaan het.

Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, het gesê die rowers het die Vodacom Chatz-winkel ingestorm en beroof. “Die polisie is nog op die toneel waarna bepaal sal word wat geroof is,” het sy gesê.

Volgens Xander Loubser van die Best Care-ambulansdienste is ‘n lid van die publiek in die been geskiet terwyl die eienaar van dié winkel oor die kop met ‘n vuurwapen geslaan is.

“Die eienaar  het ‘n snywond opgedoen. Altwee beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na die naaste hospitaal per ambulans vervoer is,” het Loubser gesê.

Steve Triter, ‘n ooggetuie, het gesê hy was besig om inkopies te doen toe hy skielik mense hoor gil en weghardloop.

“Ek het my pakkies neergesit en dadelik ondersoek ingestel. Ek het die mans uit die Vodacom-winkel sien hardloop en ‘n groep van ons het die mans agterna gesit. Hulle het agter op ‘n bakkie gespring en skielik skote in ons rigting afgevuur,” het ‘n geskokte Triter gesê.

Hy het gesê een persoon is lig in die been beseer.

“Dit was ‘n vreeslike ervaring gewees. Toe hulle op ons begin skiet, het ek net vir skuiling geduik. Ek was tien jaar gelede in ‘n kaping betrokke en só iets bly by ‘n mens.”

Die polisie is tans besig om die omgewing vir die rowers te fynkam.

 

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button