EntertainmentLifestyle

Bekende Bouwer word TV ster

Die aantreklike sanger Bouwer Bosch het geen bekendstelling nodig nie. Nie net het hy bekendheid verwerf as hoofsanger van die Straatligkinders en toe later as deel van die groep Dans Dans Lisa nie, hy is ook deesdae aanbieder van die nuwe Afrikaanse reisprogram Agterpad wat op DSTV te sien is. In Agterpad durf Bosch die …

Die aantreklike sanger Bouwer Bosch het geen bekendstelling nodig nie. Nie net het hy bekendheid verwerf as hoofsanger van die Straatligkinders en toe later as deel van die groep Dans Dans Lisa nie, hy is ook deesdae aanbieder van die nuwe Afrikaanse reisprogram Agterpad wat op DSTV te sien is. In Agterpad durf Bosch die langpad Wes-Kaap toe aan waar hy by talle klein dorpies besoek aflê.

Rekord het met Bosch gaan gesels oor presies hoe dit gebeur het dat hy deesdae eerder as aanbieder voor die kamers te sien is.

Hoe het jy besluit om ‘n aanbieder te word?

Ek dink ek was maar bevoorreg genoeg om ’n platform te hê na Straatligkinders se sukses so ek het hier en daar ’n rolletjie losgeslaan. Corry Uys, die vervaardiger van Agterpad het my gevra om deel te wees van die reeks na ons ’n paar keer saam gewerk het. Ek is nog altyd ’n groot aanhanger van sy werk so hopelik kan ons meer sulke reekse saam aanpak.

Geniet jy dit om ‘n aanbieder te wees?

Eerlikwaar was dit vir my ’n groot uitdaging. Ek is gewoond aan tekste en ek kan gelukkig flink op my voete dink. Om deel van dié reeks te wees is vir my ‘n groot voorreg en ek het baie geleer. Ek sal defenitief weer so ’n avontuur wil aanpak maar ek moet sê ek het baie respek vir aanbieders gekry na die verfilming van Agterpad.

Hoe het ‘n stadsjapie soos jy besluit om ‘n reisprogram te maak oor die Wes-Kaapse platteland?

Die idee vir die program het eintlik by Corrie begin. Hy wou ’n reeks maak met ’n meer persoonlike aanslag. ’n reisprogram wat nie noodwendig heeltyd oor die reise en die dorpe gaan nie maar meer oor ’n persoon se persoonlike avontuur vasvang. Dit is juis hierdie aanslag wat my geprikkel het, die feit dat daar ’n persoonlike element betrokke was. Als gaan oor stories. My storie soos ek van plek tot plek reis en ook die stories van die mense met wie ons langs die pad klets.

Wat was jou gunstelling plek waarheen jy gereis het tydens die verfilming van Agterpad?

Piket-Bo-Berg was die mooiste plek waar ek in my lewe al was. Ek was in verwondering daar.

Wat was jou gunstelling ervaring gewees?

Om so ’n mooi deel van ons land te sien was wonderlik. Ek was nog nooit in een van daardie klein dorpies gewees nie so dit het gevoel of my hele wêreld verander. Ek kan nie wag om weer so ’n reis mee te maak en om vir my virende te gaan wys waar ek was nie.

Hoe gaan die aanbieding van Agterpad jou musiek loopbaan beinvloed?

Ek dink dit gaan juis help om vir ’n nuwe gehoor te wys wat ek kan doen. Ek dink persoonlik die musiek wat ek maak is nie noodwendig almal so idee van goeie musiek nie maar ek is dankbaar dat Agterpad my blootstelling gaan gee aan ’n hele nuwe kykermark. Ek het na die verfilming van die reeks terug gekom met baie stories so ek kan nie wag om alles in liedjies te verander nie.

Jy en Leandie du Randt is deesdae ‘n paartjie. Hoe kry julle tyd vir mekaar tussen julle besige skedules?

Ja nee die liefde is ’n interessante ding. Ons albei verstaan mekaar se beroepe. Ons albei weet ook dat mens dankbaar moet wees vir vryskutwerk. Ons albei weet dat die projekte net tydelik is in die sin dat dit net vir ’n maand of twee aanhou. Ons elkeen hou van ons spasie en gee mekaar ook tyd en spasie om by almal uit te kom buite ons besige skedules. Die geheim is maar net om altyd te onthou wat belangrik is. As die musiek stop, die verhoog se ligte gaan af en die kameras word gebêre is dit die mense in jou lewe wat oorbly, en ons probeer maar om daardie uitkyk aan aanslag handhaaf.

Hoe het julle twee mekaar ontmoet?

Ons het vir die eerste keer twee jaar gelede op die stel van Klein Karoo ontmoet. Ons was op dieselfde vlug George toe, so ons het tegnies by die lughawe ontmoet.

Wat kan ons volgende van Bouwer Bosch verwag? Enige nuwe albums?

Ek is tans besig om te skryf aan ’n hele paar nuwe liedjies. Ek besluit nog of ek ’n nuwe album wil doen en of ek net al my nuwe liedjies aanlyn gaan vrystel. Daar is verskillende ander geleenthede spesifiek in film vir my opgekom so ek het nog nie regtig baie aan my musiek gedink nie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button