Beeskraal maak ‘n terugkeer
Charles Smidt and Kevin Hurter beter bekend as Beeskraal Revival is terug met 'n splinternuwe album Kronkelpad, wat reeds in winkels beskikbaar is.

Beeskraal is geen onbekende in plaaslike musiekkringe nie en vermaak aanhangers reeds die afgelope 15 jaar. Vanjaar is Beeskraal – wat bestaan uit Charles Smidt and Kevin Hurter – terug met ‘n splinternuwe album Kronkelpad, wat reeds in winkels beskikbaar is.
Hierdie is Beeskraal Revival (soos hulle nou bekend staan) se agste ateljee-album en te oordeel aan die kenners in die musiekindustrie is dit die beste album nog.
Dit is nie sommer sonder moeite aanmekaar gesit nie.
Baie navorsing is gedoen oor die nuuste giere en groepe op die internasionale front. Al die instrumentasie is lewendig opgeneem en die duo beskryf hul musiekstyl as Magaliesberg Musiek. Beslis iets om na uit te sien.
Rekord het met Beeskraal gaan gesels om meer uit te vind oor hul album en toekomsplanne.
Julle staan deesdae as Beeskraal Revival bekend maar hoekom moes ons so lank vir ‘n nuwe album wag?
Dit is veseker ‘n herlewing vir ons en Kronkelpad is die eerste nuwe album in vier jaar. Ons het darem nie stilgesit nie en was betrokke by verskeie ander projekte, onder andere die verfilming en vervaardiging van die suksesvolle kykNET reeks ‘Country Hart met Juanita du Plessis’ in Amerika.
Is al die groeplede van Pretoria afkomstig?
Ons almal is afkomstig van die Noorde van Pretoria vanaf Sinoville, Magalieskruin en Onderstepoort.
Beskryf wat aanhangers van Beeskraal kan verwag?
Aanhangers kan verseker ‘n nuwe asem en vars bries van ons kant af verwag. Ons lewendige optredes spreek vanself. Altyd energiek en baie vermaaklik. Ons hou ook die mense op hulle voete tussen ons oorspronklike songs deur met ou ‘classics’ vanaf Johnny Cash tot Creedance Clearwater Revival.
Verduidelik asseblief die term Magaliesberg Musiek.
Die term is afgelei van die Internasionale term Appalachian Mountain Music wat gebore is in West Virginia en North Carolina in die VSA. Omdat ons grootgeword het onder die hange van die Magaliesberge het ons die term baie toepaslik gevind vir die unieke styl waarmee ons nou besig is. As jy van Tom Petty, John Denver, Crosby Stills and Nash of musiek met so bietjie gospel ondertoon is hierdie styl vir jou.
Het julle enige gunsteling liedjies op die album? Indien wel, watter?
Al die liedjies op die album staan vir ons uit in sy eie reg en styl maar as ons liedjies moet uitsonder sal dit wees, Jane, Vleisbraai, Storm en Kronkelpad.
Hoe lank het dit geneem om die album op te neem?
Die hele proses vanaf die skryf en opname van die album het so ongeveer nege maande geduur.
Het julle al die liedjies self geskryf?
Nege van die liedjies het ons self geskryf maar soos op ons vorige albums doen ons graag vertalings of weergawes van internasionale liedjies met toestemming, wat nie regtig welombekend is in Suid Afrika nie. Soos byvoorbeeld ons ‘Vleisbraa’i liedjie is ‘n vertaalde weergawe van die Amerikaanse no.1 een treffer ‘Chickenfried’ deur Zack Brown Band
Waar kry julle inspirasie vir julle liedjies?
Ons kry inspirasie deur alledaagse gebeure, denkbeeldige staaltjies van verhoudings en natuurlik die styl afkomstig vanaf die ‘Bible belt’ in die Suidelike state van die VSA.
Wat kan aanhangers volgende van julle verwag?
Verseker ‘n kustoer binne die volgende ses maande. Ons toer reeds binnelands onder andere in die Noord Kaap en Vrystaat in September en Oktober. Ons musiekvideo van ‘Jane’ is ook reeds op 1 September geskiet.
Vir ‘n musiekvideo klik hier of volg Beeskraal Revival op twitter.
