Plofslae skud noorde van Pretoria
Vragmotor en kragopwekker ontplof in noorde van Pretoria. Niemand beseer.
‘n Reeks ontploffings het die noorde van Pretoria Maandagoggend geskud.
Blykbaar het ‘n kragopwekker, wat gebruik is om diesel in ‘n vragmotor te pomp, aan die brand geslaan en so ook die voertuig. Beide het ontplof.
Die ontploffing was by Jurie Pale en Lapa’s in Derdepoort, waar die vragmotor besig was om dek-riet af te laai.
Die eienaars, Riekie en Jurie Steenberg, sê duisende rande se skade is aangerig.
Riekie sê sy het omstreeks 11:00 ‘n oproep ontvang dat daar ‘n ontploffing by die onderneming was.
“Wat ons kan aflei is dat die kragopwekker, wat gebruik word om diesel in die trok te pomp, aan die brand geslaan het, en so ook die trok. Die tenk en die kragopwekker het ontplof. Daar is derduisende rand se skade.”
Riekie sê die dek-riet is van die Kaap af vervoer en was sowat R45 000 werd.
“Gelukkig is niemand in die ontploffing of die brand beseer nie. Niks anders van die eiendom is beskadig nie.”
‘n Inwoner, Helgard Coertze, sê hy het sowat ses harde onploffings met tussenposes gehoor.
“Die ontploffings was nie direk na mekaar nie en daar was onmiddellik baie rook. Die polisie en brandweer was redelik vinnig op die toneel.”
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.



