Kleuter en ma met skokstok geskok buite skool

’n Jong ma en haar dogter is deur drie aanvallers oorweldig en met ’n skokstok geskok.

‘n Jong ma en haar vyfjarige dogter is Dinsdagmiddag met ‘n skokstok aangeval by ‘n kleuterskool in Booysens.

Carin Du Venage van Mountain View het haar dogter Megan omstreeks 17:00 by die voorskool opgelaai toe sy die drie mans langs die pad opmerk.

“Ek het eers niks daarvan gedink nie omdat daar so baie ouers om my was. Ek het veilig gevoel. Ek het ingestap en net na 17:15 weer uitgekom,” het Du Venage gesê.

Toe Du Venage by haar voertuig kom, het die drie mans op haar afgestorm. Sy het die bestuurdersdeur opgeswaai en haar dogter ingegooi. Voordat sy die voertuig kon aanskakel, het die mans haar oorweldig.

“Die een het iets teen my nek gehou wat soos ’n vuurwapen gevoel het. Die ander man het agter ingeklim terwyl die derde man by die passasiersdeur probeer inkom het. Genadiglik het my sentrale sluitstelsel ingeskop en die man kon nie by die deur inkom nie,” het sy verduidelik.

Du Venage het haar teengesit, maar een van haar aanvallers het haar op die bors geskok. Twee van die mans het intussen daarin geslaag om in die voertuig te klim, maar Du Venage het nie moed opgegee nie.

“Ek het aanhou veg en probeer om die voertuigsleutels uit die aanskakelaar te trek. Megan het begin gil en dit is toe hulle haar ook skok. Gelukkig het twee pa’s en ma’s ons kom help,” vertel Duvenage.

Sy sê die aanvallers het haar selfoon en voertuig aangebied mits hulle haar dogter met rus laat.

“Hulle wou niks weet nie. Ek is nie seker of dit ’n kaping of ’n beplande ontvoering was nie.”

Een van die ouers het voor Duvenage se voertuig stilgehou terwyl twee ander pa’s nadergehardloop het om die aanvallers vas te vat.

Duvenhage sê: “Twee van my aanvallers is in hegtenis geneem terwyl een weggekom het. Ek verneem een van die pa’s het sy ligamente tydens die aanval geskeur. Ek is so dankbaar vir die mense wat my en Megan kom help het.”

Die polisie kon nog nie terugvoer verskaf nie.

 

For more community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Also like our Facebook page and follow us on Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button