Moordenaars steeds op vrye voet

Twee mans is Maandag koelbloedig in Pretoria-Wes doodgeskiet voordat hulle beroof is.

Die polisie is steeds opsoek na die moordenaars van die twee mans wat koelbloedige in Pretoria-Wes doodgeskiet is.

Die bestuurder van Pretoria Chicken and Meat is die oggend vermoor toe hy op pad was om die naweek se geld van die slaghuis in die bank te deponeer. Louis du Toit is geskiet toe hy uitstap. Hy was 29 jaar oud.

Sy aanvaller het met die geldsak verdwyn.

Louis

Enkele ure later, is die eienaar van Toyco Motor Spares in Soutterstraat tydens ‘n rooftog doodgeskiet. Jury Hayes het voorgegee dat hy ‘n klant was toe hy trompop in die rug geskiet is. Hy was 41 jaar oud.

Jury 2
Jury Hayes

‘n Direkteur van die slaghuis waar Du Toit geskiet is, Pieter Swanepoel, sê hy het gewoonlik saam met die bestuurder gegaan om geld te deponeer.

“Hierdie keer het hy gesê hy sal die veiligheidswag saamvat. Gewoonlik wissel ons die tye om geld te deponeer en gebruik ook nie altyd dieselfde geldsak nie.”

Swanepoel sê die aanduidings is dat ‘n vreemdeling Du Toit genader het, hom geskiet het en die geldsak met R140 000 gegryp het. Hy het in ‘n wagtende motor gespring wat weggejaag het.

‘n Vensterwasser by ‘n verkeerslig sê Du Toit het hom teengesit voordat hy geskiet is.

Verskeie klante het openlik gehuil by die aanblik van Du Toit’s se lewelose liggaam op die sypaadjie voor die slaghuis. Sy vrou is in diepe rou, sê Swanepoel.

“Ek weet Louis was ‘n minsame mens. Ek kan nie glo dat iemand so wreed kan wees om die lewe van ‘n sorgsame man te beëndig nie. Hy het na ons omgesien,” sê een van die klante.

David Mosi, wat op pad na die slaghguis was om vrugtesap te koop, sê hy was geskok deur die gebeure.

“Louis was ‘n goeie mens, altyd gaaf en vol grappies. Ek het hom sewe jaar lank geken. Wat gebeur het, is verskriklik.”

Die moord van Hayes het die mense van Pretoria-Wes eweneens geruk.

Drie gewapende mans het sy onderneming binnegestap en geld geëis, sê polisiewoordvoerder Kaptein Bonginkosi Msimango.

“‘n Onbekende bedrag geld is aan hulle oorhandig terwyl Hayes buite was. He het die winkel binnestap en hom in die gewapende rowers vasgeloop. Toe hy hul vuurwapens sien, het hy probeer uitstap.”

Die rowers het hom voorgekeer en hy het voorgegee dat hy ‘n klant is. Die rowers het hom in die rug geskiet en hy is op die toneel dood.

Iemand van ‘n nabygeleë onderneming sê hy het ‘n skoot gehoor en gaan kyk wat aangaan.

“Toe ons buite kom, het ons ‘n wit Toyota Corolla sien wegjaag. Hayes het op die grond gelê. Ek het hom nie so goed geken nie, maar hy het altyd met ‘n vriendelike glimlag gegroet.”

Die polisie ondersoek twee afsonderlike moorde en rooftogte omdat daar nie genoeg ooreenkomste tussen die twee misdade is nie.

“Die rowers by die Toyco Motor Spares het in ‘n wit Toyota Corolla gevlug en Du Toit se aanvaller het in ‘n rooi Toyota Corolla verdwyn wat later verlate in Bremerstraat gekry is.”

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button