Groep teen misdaad vat vlam
Moot Crime Prevention se WhatsApp-groep het binne sewe maande van enkele lede tot bykans 600 lede gegroei.

Binne byna sewe maande het Moot Crime Prevention (MCP) van ’n handjievol mense tot meer as 600 lede gegroei.
Die MCP WhatsApp-groepe is alleenlik vir noodboodskappe en ‘uitkyk’-versoeke. Die MCP Facebook-blad is gestig om misdaadwenke te deel en bewusmaking te skep, en word nie permanent gemonitor nie.
MCP-stigter Theo Breedt sê die idee vir die groepe het bloot ontstaan uit kommer oor inwoners wat nie gemeenskapsradio’s kan bekostig nie.
“Hoewel ek inwoners aanmoedig om gemeenskapsradio’s te koop of te huur, is daar ook ’n bykomende oplossing deur middel van die WhatsApp-groepe,” sê hy.
Volgens Breedt het die eerste WhatsApp-groep baie stadig gegroei en skielik vlamgevat. Breedt, met die hulp van drie ander administratiewe persone, beman die ses verskillende groepe dag en nag.
Breedt se hoop met die groepe is om misdaad te bekamp en die gemeenskap tot so ’n mate te organiseer dat as daar ’n ‘uitkyk’ deurgee word, wanneer almal wat by die huis is net vir twee minute buite hul huis gaan staan en help kyk.
“Die mense op die groepe is die oë en ore van die samelewing. As almal saamwerk en help kyk, kan misdaad bekamp word. Ons almal moet saamstaan om misdaad te beveg. Dit is gratis om aan te sluit en kos niks behalwe jou eie data nie,” sê Breedt.
Rista de Beer, ’n Kilnerpark-inwoner, sê sy vertrou MCP met haar lewe. Volgens De Beer was daar drie verskillende voorvalle waarby MCP vinnige hulp verleen het.
“My buurman het ’n beroerte gehad en ons het nie geweet wie om te kontak nie. Ek het besluit om vir Theo te kontak en binne vyfminute was tien mense reeds op die toneel. As gevolg van hulle vinnige reaksie is die man se lewe gered,” het sy gesê.
In ’n ander voorval het ’n man langs die pad met sy motor gestaan. Volgens De Beer het inwoners die man as verdag beskou. “Ons het weer vir MCP gekontak en hulle was weer binne enkele minute daar. Op die einde van die dag het die man se motor gaan staan en MCP kon hom help om die voertuig weer aan die gang te kry.”
Die derde insident was ’n gewapende roof by De Beer se huis. “Hoewel MCP nie die roof kon keer nie, was hulle wel binne sewe minute op toneel en hulle het trauma-beraders gestuur om bystand te verleen. As my seun en man MCP se noodnommers gehad het, glo ek die rooftog sou gestuit gewees het.”
Sy versoek inwoners om so gou as moontlik by die MCP aan te sluit. Breedt sê hy hoop om in die toekoms alle administrateurs van GPF-groepe asook veiligheidsmaatskappye by die WhatsApp-groepe te betrek.
Enigiemand wat by die MCP-groepe betrokke wil raak, kan ’n e-pos na mootcrimeprevention@gmail.com stuur.
