Wen ‘n Hollywood in My Huis DVD
Vir dié wat Hollywood in my Huis op die groot skerm gemis het... Hierdie treffer-fliek, beskryf as een van die beste Afrikaanse romantiese komedies in 'n lang tyd, is vanaf vandag beskikbaar by DVD winkels en DSTV se Box Office.

Hollywood in my Huis is ’n romantiese komedie oor volwassewording, wat hom teen die agtergrond van ’n matriekafskeid in 2004 in Suid-Afrika afspeel. Die storie fokus op ’n gewone tienermeisie – Jana van Tonder (Christia Visser) – wat in ’n arm spoorwegbuurt saam met haar disfunksionele ouers woon.
Toe sy op televisie sien hoe Charlize Theron haar ikoniese Oscar-beeldjie wen, besluit Jana om haar komende matrieksafskeid in haar eie rooitapyt-oomblik in die idioom van Hollywood te omskep.
Jana, haar ouers (Nicola Hanekom en Louw Venter) en haar beste vriend, Frikkie (Edwin van der Walt) woon almal aan die verkeerde kant van die spoorlyn.
Jana se pa is werkloos en haar ma het haar eie skoonheidsalon wat sy uit ’n woonwa in die voortuin bedryf. Die volwassenes se drome is reeds aan skerwe, maar Jana se drome styg ver bo haar beskeie omstandighede uit.
Die fliek gaan oor twee wêrelde – die mense aan die verkeerde kant van die spoorlyn en hulle ryk teenpole – maar dit gaan ook oor die fantasiewêreld waarin Jana leef.
Hoewel Hollywood in my Huis ’n lighartige en prettige gesinrolprent is, was die uitdaging van die storie om ’n balans tussen die ligter en donkerder elemente te handhaaf.
Die rolverdeling sluit ook Leandie du Randt, Marga van Rooy en Elana Afrika-Bredenkamp in.
Hollywood in my Huis het verlede jaar drie toekennings by die kykNET Silwerskermfees ingepalm en in Junie vanjaar in fliekteaters landwyd ge-open.
Die fliek is uit alle oorde deur resensente geloof en word beskryf as een van die beste Afrikaanse romantiese komedies in onlangse tye. Die vervaardiger het die meeste slaggate misgetrap en dit gewaag op terreine wat vele ander laat terugdeins het.
“Die jong, belowende regisseur Corné van Rooyen slaag loshande daarin om die Afrikaanse romantiese komedie te herontwerp, stereotipes nek om te draai, en spel uit sy akteurs te kry wat ‘n mens trots maak om na ‘n Afrikaanse rolprent te kyk,” sê veteraan-resensent Leon van Nierop.
Hollywood in my Huis is vanaf 31 Augustus 2015 wêreldwyd beskikbaar op DSTV Box Office en in DVD-winkels.
*Vir meer inlingting, gaan loer op die rolprent se Facebookblad, Twitter of webwerf.
WEN! Vyf gelukkige lesers kan elk ‘n Hollywood in my Huis DVD wen. Vul net die onderstaande vorm in gebruik die woord Hollywood.
